Gee ’n ja-tree vir vervolgde Christene

Foto: Pixabay.com

Geopende Deure kry daagliks te doen met Christene wat wêreldwyd vervolg word. Te midde van talle mense wat ernstige druk ervaar, en dikwels soms die hoogste prys vir hul geloof betaal, het die organisasie ook getuienis van hierdie Christene wat vertel van hoop en God se goedheid en genade.

Volgens Jan Gouws, uitvoerende direkteur van dié internasionale organisasie wat bystand lewer aan vervolgde Christene, is een sodanige geval die verhaal van Naomi Zoré, ʼn Christenvrou van Burkina Faso in die weste van Afrika.

“Haar man, pastoor Eli, het in die spervuur beland in ʼn twee uur lange skietery van Islamitiese terroriste op Christene. Hy is dood in die skietery terwyl hy by die huis probeer uitkom het om sy familie te beskerm.

“Nadat Eli oorlede is, moes Naomi en haar nege kinders inderhaas na ʼn veilige kamp in Kaya, die sewende grootste stad in dié land, vlug. Hoewel hulle huisvesting gekry het, was daar ʼn groot tekort aan kos in die kamp. Te danke aan ons ondersteuners kon Geopende Deure ingryp en die 560 weerlose gesinne met mielies, rys en droëbone vir twee maande help.”

Geopende Deure het Naomi en ander gesinne in die kamp besoek waar sy getuig het van God se voorsiening. “Naomi het ons vertel van haar besef dat God hul desperate gebede verhoor het met die hulp van gelowiges oor die wêreld heen.”

Volgens Gouws is Naomi een van talle weduwees in Afrika wat alleen agtergelaat word om na kinders om te sien ná hul mans vermoor is.

“Dit is ʼn bekende taktiek van ekstremiste om Christenmans, wat dikwels die broodwinners is, te vermoor. Dit verarm nie net die gemeenskap nie, maar maak ook die weduwees en kinders meer kwesbaar vir verdere vervolging. Hulle is dan maklike teikens vir verkragting, ontvoering, gedwonge huwelike en geforseerde bekering tot Islam,” het Gouws gesê.

Hy het bygevoeg dat Geopende Deure daarna streef om Christene in Suid-Afrika bewus te maak van die kommerwekkende situasie in lande waar Christene vervolg word. Die organisasie het sy jaarlikse wêreldwaarnemingslys in Januarie uitgereik, wat ʼn somber prentjie skets oor die vervolging van Christene. Dit dui daarop dat meer as 260 miljoen Christene wêreldwyd vervolging vir hul geloof ervaar.

Altesaam een uit elke agt Christene ervaar hoë tot uiterste vlakke van vervolging vir hul geloof. Noord-Korea is die afgelope paar jaar boaan hierdie lys, gevolg deur Afghanistan en Somalië.

“Volgens 1 Korintiërs 12:26 is ons een liggaam, en is vervolgde Christene soos Naomi ons susters en broers in geloof. Ons kan hulle deur gebed en ondersteuning dra.”

Gouws meen dié woorde van Broer Andrew, die stigter van Geopende Deure, som mooi op waarom gelowiges hul vervolgde broers en susters moet ondersteun en nie op die kantlyn bly staan nie: “Wanneer ook al, waar ook al, hoe ook al U my nodig het, ek sal gaan. En ek sal dadelik begin. Here, wanneer ek opstaan uit dié plek en vorentoe tree, sal U dit beskou as my eerste tree van absolute gehoorsaamheid aan U? Ek noem dit dan my Ja-tree.”

Hoe kan ʼn mens betrokke raak? “Nooi Geopende Deure om te kom gesels by jou plaaslike kerk of byeenkoms. Word ’n gebedsvennoot en bid saam met ons vervolgde familie. Reis saam met ons om ons vervolgde familie te besoek of raak finansieel betrokke by ons.

“Op watter manier jy ook al wil betrokke raak – stuur ’n SMS na 34699 met die woord ‘AKSIE’ en jou naam en ons nader jou om te hoor hoe jy betrokke wil raak. Dit is dus ‘AKSIE’ en jou naam na 34699,” het Gouws afgesluit.

  • Jan Gouws van Geopende Deure het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor hoe lesers en luisteraars vervolgde Christene wêreldwyd kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.