Altesaam 260 miljoen Christene word wêreldwyd vervolg

Noord-Korea hou vanjaar weereens die berugte titel vir die land waar Christene die ergste vir hul geloof vervolg word. Foto: Verskaf.

Noord-Korea is sedert 2002 boaan die ranglys as die land met die ergste vervolging van Christene. Hierdie land hou vanjaar weer die berugte titel met Afghanistan kort op sy hakke en Somalië in die derde plek.

Geopende Deure Internasionaal het sy 2020-Wêreldwaarnemingslys (WWL) op 15 Januarie bekendgestel. Dié lys word jaarliks saamgestel om die top 50-lande waar Christene die ergste vir hul geloof vervolg word, in numeriese volgorde aan te kondig.

Volgens die jongste wêreldwye opname wat monitor hoe moeilik dit is om as ’n Christen te leef, is die algehele tendens dat 73 lande uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging ervaar.

Altesaam 260 miljoen Christene op die lys se top 50-lande ervaar uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging. ’n Land moet ’n telling van 81 of meer uit 100 behaal om uiterste vervolging te ervaar, 61 punte of meer vir baie hoë vlakke, en 41 punte of meer vir hoë vlakke.

Wêreldwye tendense

Geopende Deure Internasionaal beraam dat minstens ’n verdere 50 miljoen Christene in die 23 lande wat nie hoog genoeg op die ranglys is om vir die top 50 te kwalifiseer nie, hoë vlakke van vervolging ervaar. Altesaam een uit elke agt Christene wêreldwyd ervaar uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging.

Die lys sluit aan by wêreldwye beriggewing oor gevalle soos die Pakistani Asia Bibi, wat in Mei 2019 uiteindelik teregstelling vrygespring het om ’n nuwe lewe in Kanada te begin.

In sommige lande, soos China en Eritrea, pas die regerings druk op Christene toe – soms met geweld. Ander magte maak die lewe vir Christene onseker in die Midde-Ooste, Suidoos-Asië, Oos-Afrika en die Sahel.

Spesifieke gevalle van vervolging

Spesifieke gevalle van vervolging teen Christene in die WWL-rapporteringstydperk sluit in:

  • In Sri Lanka is meer as 250 mense, van wie 45 kinders is, op Paassondag in aanvalle op drie kerke en hotelle doodgemaak. Meer as 500 mense is beseer.
  • Altesaam 20 mense is by ’n Katolieke kerk in Jolo in die Suidelike Filippyne in bomaanvalle doodgemaak.
  • In China is staatsgoedgekeurde en “ondergrondse” kerke in minstens 23 provinsies geteister of gesluit. By minstens een staatsgoedgekeurde kerk in Xinjiang word vereis dat gemeentelede in rye moet aanmeld vir gesigsherkenningkontrole.
  • In die Wes-Afrikaland Burkina Faso het gewelddadige Islamitiese militante kerkleiers doodgemaak, families vir lospryse ontvoer en skole en kerke afgebrand.
  • In Egipte is sewe Koptiese Christene doodgemaak toe terroriste hul bus aangeval het tydens ’n besoek aan ’n klooster. Die aanval het op dieselfde plek plaasgevind waar 28 Koptiese Christene minder as 18 maande tevore doodgemaak is toe gemaskerde gewapende mans op hul voertuie losgebrand het.
  • In Iran is 194 Christene in hegtenis geneem, waarvan 114 in een week voor Kersfees 2018 aangekeer is. Verskeie huiskerke in nege stede is geplunder.

Somalië neem die derde plek op Geopende Deure Internasionaal se 2020-Wêreldwaarnemingslys in vir die lande waar Christene die ergste vir hul geloof vervolg word. Foto: Verskaf.

Toename in vervolging

Die enigste verandering in die top 10-lande sedert die 2019-WWL is dat Soedan en Eritrea hul nr. 6- en nr. 7-plekke omgeruil het. In Soedan het min tot dusver vir die nasie se Christene verander, ondanks die verdrywing van president Al-Basjir ná meer as 30 jaar.

Die Verenigde Nasies het in Mei 2019 gehoor dat honderde Christene in Eritrea gevangenskap in die gesig staar omdat godsdiensvryheid voortdurend ontken word. Die regering het in Junie skielik al 22 gesondheidsklinieke wat deur Katolieke bedryf word, oorgeneem en gesluit. Vyf Ortodokse priesters is ook in hegtenis geneem. Eritrea se Ortodokse patriarg, wat in 2007 deur die regering in huisarres geplaas is, is in Augustus uit sy eie kerk geskors weens beskuldigings van kettery deur regeringsgesinde biskoppe.

Top 11-lande: Uiterste vlak

Die top 11-lande op die 2020-lys ervaar ’n uiterste vlak van vervolging.

Indië, wat die top 10 vir die eerste keer op die 2019-WWL gehaal het, bly vanjaar op nr. 10. Nasionalistiese Hindoe-ekstremisme het in dié land gegroei nadat die BJP-regering onder Narendra Modi in Mei 2019 vir ’n tweede termyn verkies is. WWL-analiste het vanjaar minstens 447 insidente geregistreer. Minder Christene is egter doodgemaak as verlede jaar.

Twee van die wêreld se digste Christelike bevolkings – een in ’n sekulêre demokrasie en die ander in ’n kommunistiese staat – ervaar uiterste (Indië) en baie hoë (China) vlakke van vervolging – hoewel dit op baie uiteenlopende maniere plaasvind. China het vanjaar met vier plekke op die lys gestyg, van nr. 27 op die 2019-WWL tot nr. 23.

Die gemiddelde telling vir druk op Chinese Christene het gestyg. Dit het op alle vlakke van die samelewing toegeneem, aangesien nuwe regulasies oor godsdiens landwyd ingestel is. Dit het nie net die sogenaamde ondergrondse huiskerke beperk nie, maar ook staatsgoedgekeurde kerke in die Drie-Self Patriotiese Beweging (TSPM) en Chinese Katolieke Patriotiese Vereniging.

Godsdiens word uit die openbare sfeer in China verban; sommige onderwysers en mediese personeel word selfs gedwing om dokumente te onderteken wat verklaar dat hulle geen godsdienstige geloof beoefen nie. Bejaarde mense word vertel dat hul pensioene ingekort sal word as hulle nie hul Christelike geloof verwerp nie. Dit alles gebeur teen ’n agtergrond van toenemende allesomvattende waarneming deur gesigsherkenning en ander tegnologie.

Toename in druk

Die druk neem oral in die top 50-lande toe. Altesaam 34 lande het in 2020 ’n baie hoë vlak van vervolging geregistreer. Verlede jaar was dié syfer 29.

Nigerië, wat steeds op nr. 12 op die lys staan, het net soos op die 2019-WWL die maksimumpunt vir geweld behaal. Dit kan grootliks toegeskryf word aan gewelddadige Fulani-militante wat Christelike gemeenskappe en kerke aanval, sowel as Boko Haram en verskeie groepe gewapende misdadigers wat ongeskonde daarvan afkom terwyl hulle mense doodmaak, ontvoer en verkrag.

Merkbare veranderinge

Daar was oor die algemeen min veranderinge in nr. 13 tot 25 op die lys sedert die 2019-WWL. Die belangrikste uitsonderings is:

  • Algerië het opgeskuif tot op nr. 17 (vanaf nr. 22 op die 2019-WWL). Net onder een uit drie van die geskatte 129 000 Christene word met 46 kerke van die Église Protestante d’Algérie (EPA) verbind. Elf EPA-kerke is gesluit in die twaalf maande-tydperk wat deur die lys gedek word (van 1 November 2018 tot 31 Oktober 2019).
  • Marokko het tot nr. 26 gestyg (vanaf nr. 35 op die 2019-WWL) en Katar het tot nr. 27 gestyg (vanaf nr. 38 op die 2019-WWL). Baie hoë tot uiterste druk word in alle sfere van die samelewing ervaar (vir kerklike bedrywighede). Hierdie twee lande het algeheel slegs drie of vier punte meer as verlede jaar behaal.
  • Burkina Faso het opgeskuif na nr. 28 (vanaf nr. 61 op die 2019-WWL). Dié land in Wes-Afrika het vinniger en verder as enige ander land op die lys gestyg; dit was op die 2019-WWL nie eens onder die top 50 nie. Minstens 50 Christene is al geteiken en vir hul geloof doodgemaak. Gewelddadige Islamitiese militante het dorpenaars in die noorde wat kruise dra, geteiken en vermoor. Kerke, skole en Christelike nieregeringsorganisasies is aangeval of moes uit vrees sluit; militante wat hulle aanval, kom ongeskonde daarvan af. Burkina Faso se telling vir geweld het sedert die 2019-WWL verdubbel – in ’n land wat voorheen in dié streek bekend was vir sy godsdienstige verdraagsaamheid en gebrek aan konflik.
  • Sri Lanka het tot nr. 30 gestyg (vanaf nr. 46 op die 2019-WWL). Dit word aan die Paasfees-bomaanvalle in April 2019 toegeskryf.
  • Bangladesj het tot nr. 38 gestyg (vanaf nr. 48 op die 2019-WWL). Die bedreiging van geweld vanaf Islamitiese militante hou ’n gevaar vir die kerk in.
  • Colombië het tot nr. 41 gestyg (vanaf nr. 47 op die 2019-WWL). Die konflik duur voort omdat die regering se vredesooreenkoms van 2016 heeltemal verbrokkel het. Kerkleiers word doodgemaak, terwyl ander doodsdreigemente ontvang omdat hulle weier om beskermingsgeld aan gewapende groepe te betaal.

Behalwe vir die 50 lande op die WWL, dui ’n addisionele 23 lande (wat nr. 51 tot 73 op die ranglys is) se telling op dieselfde hoë vlak van vervolging as dié wat onderaan die top 50 is – die Russiese Federasie, Verenigde Arabiese Emirate, Kameroen, Indonesië en Niger. Terwyl Indonesië vanjaar vanaf posisie nr. 30 tot nr. 49 gedaal het, het Kameroen (48) vanjaar die top 50 vir die eerste keer betree. Niger (50) het die top 50 weer eens gehaal, hoofsaaklik weens die styging in radikale Islamitiese invloede oor die hele Afrika suid van die Sahara.

  • Besoek Opendoors.org.za om die 2020-Wêreldwaarnemingslys, die top 50-lande se profiele en statistieke oor vervolging te besigtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mari ·

N mens besef nie dat Christenne in so n groot maat vervolg word nie. Dinge is net te gemaklik in SA. Dankie vir die artikel.

Suzie ·

Waarom word Open Doors met Geopende Deure vertaal? Open is Oop. OPENED is geopende… Ek sou dus eerder Oop Deure gebruik het, wat se betekenis ook beter pas by die organisasie se doelstellings. of is dit hul amptelike vertaling?

Boc ·

Want dit is die amptelike Afrikaanse naam. Ek dink die inhoud van die berig is van BAIE groter belang Suzie

skurweberg ·

Die woord “Christen” in Suid-Afrika word gebruik om na ‘n groep mense te verwys wat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees as die Drie Eenheid bely. Tydens die doop vorm die Drie Eenheid ‘n integrale deel van die formulier. Vorm hierdie belydenis ook deel van die Christene in die lande waar hulle vervolg word? Iemand wat die voorreg het om te reis en statestiek versamel sal hierdie vraag kan beantwoord.

Bloues ·

Skurweberg, ek dink nou aan dieselfde. Kan Katolieke werklik beskou word as Christene.?

MsJay ·

Bloues, daardie bly ‘n relevante vraag. Die ding is, as jy jouself ‘n Christen (i.e. volgeling van Jesus Christus) noem, maar nie-Bybelse praktyke beoefen soos om Maria te vereer, tot die “saints” te bid vir voorspraak by die Vader en om onder meer die doktrine aan te hang dat geloof én goeie werke die Ewige Lewe verseker (so asof die mens se werke ooit as goed genoeg geag sal kan word deur die Allerheiligste), blyk dit meer ‘n “religious cult” te wees as enigiets anders. Selfs Protestantisme se vaders van toentertyd was al van mening dat die pous die antichris is. Ons moet bly bid dat Katolieke die Waarheid sal sien i.p.v. om mensgemaakte reëls aan te hang wat direk teenstrydig met die woord is.

Johan Venter ·

Hulle reken dat by die 80% van die mense in Suid -Afrika is Christene, wel, dis die syfer wat amptelik verkondig word. Dan vra mens, kan dit reg wees as ons na die land om ons, en die gebeure kyk, besluite wat geneem word, hoe die land bestuur word, die regslui wat uitsprake maak, mens sou glo dat die 80 % moet nogal eweredig versprei wees, maar blykbaar nie? Tensy ander oorwegings swaarder as die godsdiens weeg.

Ander Annie ·

Hartseer om dit te lees. Ek het self gesien in China, dat Christenskap nie erken word nie. Ons sien die eindtyd al hoe meer ‘n werklikheid word. Ons is inderdaad nog bevoorreg in SA.

Nelia van Zyl ·

Baie dankie vir ‘n insiggewende artikel. Laat ons indringend bid vir alle Christene wêreldwyd, maar veral vir diegene wat so wreed vervolg word.

Tienie ·

Hoekom plaas julle artikel onder opskrif”goeie goed” ???

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Tienie

Hierdie artikel het ook onder die kategorie Stiltetyd verskyn, wat tans nog onder Karmenaadjies staan, aangesien Geopende Deure versoek dat alle Christene eerstens saam bid vir hierdie Christene wat vervolg word. As die artikel onder dié betrokke afdeling verskyn word dit outomaties ook môreoggend uitgestuur in die nuusbrief wat Maroela Media se Gedagte vir die Dag- en ToekomsVenster-oordenkings bevat en op die wyse word dit deel van ʼn wye gebedsversoek aan ons lesers.

Hoop dit werp lig op die rede vir die plasing.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens Maroela Media

Schalk ·

Kan die grootste gros Christene gereken word as Christene? As ek maar net hier by ons in SA kyk is hulle maar net Christene in naam. Sondag Christene om presies te wees.

Johan Venter ·

Ek stem saam met jou, dis hoekom ek hier bo die vraag vra, ook het ek dit gister onder Herman Toerien se nuuskommentaar gevra, daardie 80% Christene??

Bottelbek ·

Vervolging vind op baie maniere plaas . Probeer met mense oor Jesus buite die tradisionele kerkmure gesels en jy gaan nie met sommer met blydskap begroet word nie. Die verkeerde gees van tradisie en godsdienstigheid is baie sterk en sou dit waag teengaan , sal jy vervolg word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.