Gedagte vir die dag: Gelykvormig, maar nooit kongruent nie

blomme-veld-vrou-son-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee. (2 Korintiërs 3:18)     

Die Griekse wiskundige Euklides het sowat drie eeue voor die geboorte van Christus meetkunde as vakgebied gevestig en die standaard gestel vir die ontwikkeling daarvan oor die eeue. Nie dat meetkunde voorheen onbekend was nie: Die Egiptenaars het reeds 3 000 jaar voor Christus verstommende resultate daarmee behaal in hul gevorderde bouwerk. Dit is die visuele sy van meetkunde (en trigonometrie) wat dit heelwat toegankliker as ander dissiplines maak. Wie van ons sal ooit vergeet hoe ons kleiner figure uitgesny het om gelykvormigheid met ’n groter een te demonstreer? Net so het ons driehoeke uitgesny om in alle opsigte soos ’n ander te lyk. Om presies op mekaar te pas; kongruent te wees.

Met die hulp van die Heilige Gees word ons “vorm” al hoe meer verander om soos dié van Christus te lyk. Dit beteken dat ons deurlopend omvorm word om, in ooreenstemming met 2 Korintiërs 3:18, gelykvormig aan Hom te raak en sy heerlikheid in ’n kleiner formaat te weerspieël.

Dit sal egter nooit gebeur dat ons vorm kongruent – dus in alle opsigte identies – aan Jesus se vorm sal wees nie. Dit sal volmaaktheid beteken, wat nooit vir enige sondaarmens bereikbaar sal wees nie.

Bron: God is hier! deur Johann van Zyl
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.