Geopende Deure vier ʼn halfeeu van genade en seën

Vervolgde Christene in Egipte wat deur Geopende Deure ondersteun word (Foto verskaf)

Die sendingorganisasie Geopende Deure Suider-Afrika, wat vervolgde Christene reg oor die wêreld ondersteun en versterk, het op 10 Mei 2021 sy 50ste verjaardag gevier. Dié mylpaal-herdenking getuig van 50 jaar se genade, seën en diens aan die vervolgde Kerk.

Talle van Geopende Deure se vennote, vrywilligers, raadslede en werknemers het verlede Saterdag en Maandag by twee geleenthede in Johannesburg saamgetrek om dié gebeurtenis op ʼn luisterryke wyse te herdenk.

Ná ʼn halfeeu in sy bediening aan vervolgde Christene, kan Geopende Deure vandag terugkyk op ʼn lang pad waartydens die organisasie ondanks talle uitdagings uitgebrei het van ʼn nederige begin tot ʼn sterk bediening wat ons vervolgde familie reg oor die wêreld ondersteun.

Die Here se getrouheid en genade is soos ʼn goue draad in Geopende Deure se geskiedenis verweef – danksy Sy volgehoue voorsiening en leiding word ons broers en susters in Christus voortdurend daarvan verseker dat hulle nooit alleen is nie.

Geopende Deure Suider-Afrika is deel van Geopende Deure Internasionaal, wat in 1955 gestig is deur Broer Andrew, ʼn Hollandse sendeling. Broer Andrew het in die vyftigerjare bekendheid verwerf toe hy na Christene agter die Ystergordyn begin uitreik het. Hy het Bybels na Oos-Europese lande begin smokkel en talle reise in sy Volkswagen Kewer – volgepak met Bybels – aangepak om Christene agter die Ystergordyn te bemoedig. Vandag het hierdie bediening al na meer as 65 lande uitgebrei.

Uitbreiding na Suid-Afrika

Broer Andrew het Suid-Afrika in Maart 1971 besoek op uitnodiging van Francis Grim van Hospital Christian Fellowship. Hy het ʼn landwye toer onderneem om oor sy werk te praat en die vestiging van ʼn Geopende Deure-bediening in Suider-Afrika ondersoek. Hy het ʼn paar weke later teruggekeer na Suid-Afrika om met ʼn groep plaaslike kerkleiers te vergader.

Ds. Koos Driescher, ʼn predikant in die Nederduits Gereformeerde Kerk, het sy huis in Johannesburg beskikbaar gestel vir die nuwe organisasie se eerste kantoor, wat in Julie 1971 geopen is. ʼn Amptelike raad is verkies en kort daarna is Geopende Deure deur middel van 12 000 nuusbriewe aan die publiek bekendgestel.

Uitreikprogramme na ander lande

Christen-vlugtelinge van Sirië wat deur Geopende Deure ondersteun word (Foto verskaf)

Min wetende dat toere na die vervolgde Kerk ʼn noodsaaklike deel van die bediening sou word, het Geopende Deure Suider-Afrika sy eerste oorsese reis in September 1972 gereël. Altesaam 70 jong Suid-Afrikaanse Christene het ʼn evangelistiese uitreikprogram by die Olimpiese Spele in München, Duitsland, van stapel gestuur.

ʼn Toer na 16 lande in die Verre Ooste het in 1973 gevolg, met die doel om Christene in lande soos Suid-Korea, Laos, Vietnam en Thailand te besoek.

In Mei 1978 is deure na talle Afrikalande oopgemaak met die “Love Africa”-konferensie in Malawi, waarna altesaam 250 afgevaardigdes opgeruk het.

Ander hoogtepunte

Op 18 Junie 1979 het die Suid-Afrikaanse basis uiteindelik sy eie kantore in Kibler Park, Johannesburg, gekry. Die kantore het in Maart 2005 na die huidige perseel in Randburg geskuif.

Talle uitstaande projekte is oor die jare bekendgestel. Twee groot hoogtepunte was Projek David, wat die Bybel se boodskap na ongeletterde mense in Angola en Mosambiek versprei het, en Projek Timothy, wat Bybelopleiding aan inheemse godsdienstige leiers verskaf het.

Ander suksesvolle projekte was Projek “Wave of Hope”, wat hulp verleen het aan slagoffers van die Tsunami in die Verre Ooste; Projek “Y-me”, wat ondersteuning gebied het aan die jeug in die Midde-Ooste; Projek “Desert Light”, wat vervolgde Christene in die Moslemwêreld ondersteun het; en mees onlangs, “Never Alone” om vervolgde Christene wêreldwyd te verseker dat hulle nie alleen in hul stryd is nie.

Hulp aan die vervolgde Kerk

Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê hy wil die organisasie se vennote en vrywilligers bedank vir hul aandeel in dié suksesverhaal. “Niks hiervan sou moontlik gewees het sonder ons vennote en vrywilligers se volgehoue ondersteuning, liefde en gebede nie. Hulle het oor die jare getrou by ons vervolgde familie in Christus gestaan. Maar bowenal, alle eer aan die Here vir sy getrouheid en hulp om die vervolgde liggaam van Christus vir 50 jaar te dien.”

Jy kan vandag help met ʼn maandelikse geskenk om ons broers en susters vir nog 50 jaar te ondersteun. Klik hier om vervolgde Christene oor die lang termyn by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.