Gedagte vir die dag: Gevul met liefde

hart_strand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom. (1 Timoteus 1:5)

Paulus het nie net die Goeie Nuus versprei nie, maar ook baie tyd bestee om vals leraars te bestry wat die gemeentes wat hy gestig het, ná sy vertrek binnegesypel het. Paulus het briewe geskryf en dikwels vertroude verteenwoordigers gestuur om gelowiges in verskillende probleemgebiede te help om tussen waarheid en leuen te onderskei.

Een van dié verteenwoordigers was Timoteus. Paulus het hom in Listra ontmoet en toe genooi om saam met hom op sy sendingreise te gaan (Hand. 16:1-3). Tydens ’n besoek aan Efese het Paulus en Timoteus skynbaar groot probleme met vals leraars in die kerk gehad. Toe Paulus verder moes reis, het Timoteus agtergebly om mense wat vals leerstellings versprei, te verbied. Die vals leraars het blykbaar die gelowiges verwar met argumente oor esoteriese sake wat hulle niks gehelp het om in die Christelike lewe tot volwassenheid te groei nie. In teenstelling met sulke verdigsels (1 Tim. 1:3) en vrugtelose gepraat behoort ’n mens daarop te fokus om liefde in alle gelowiges te wek. Watter soort liefde? Die soort wat na vore kom uit ’n rein hart wat God liefhet en vry is van korrupsie; uit ’n goeie gewete wat vry is van skuld en onsuiwer motiewe, en uit ’n opregte geloof wat op Christus alleen gefokus is.

Jesus het immers gesê as ons mekaar liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is (Joh. 13:35). Dít is die soort liefde wat wys wie ons is en aan Wie ons behoort. Sulke liefde trek ander mense na Jesus.

Hoe kan jy seker wees dat dié soort liefde jou lewe en jou verhoudings kenmerk? Wat is die gesindheid van jou hart, jou gewete, jou geloof?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Baie dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al die seëninge Here. Amen!

Kornel ·

Dankie Here vir so baie mense wat nog liefde in hulle het. Ons is geseend met U liefde. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.