Gedagte vir die dag: God sien verstote mense

Foto: pixabay.com

Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word.” (Lukas 1:35)

Kan jy dink hoe verstote en selfs skaam Maria dalk was in die tyd wat sy as ongetroude vrou swanger geraak het met Jesus. Sy was nie net die draer van ’n buite-egtelike kind nie, maar moes ook verklaar dat sy swanger geraak het sonder dat sy en Josef by mekaar geslaap het. Vir enige buitestander klink dit darem maar te dik vir ’n daalder dat die Gees van God haar kon swanger maak.

Maar ook hierdie vrou laat God nie aan haar eie genade oor nie. Hy gee aan haar ’n vriendin, Elisabet, wat haar vrouehart verstaan en ’n man, Josef, wat ondanks die “skande” getrou aan sy verloofde bly.

God sién mense wat, om watter rede ook al, vir ander mense wil wegkruip. Hy verstaan die harte van mense wat skaam-skaam wonder wat ander van hulle dink. En Hy omvou ook húlle met groot deernis en beskerming.

God verstaan jou diepste gedagtes, vrese en onsekerheid. Gee dit maar net weer vandag sonder skroom vir Hom.

Vou my asseblief toe, Allerhoogste.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here U is die Weg en die Lewe tot in alle ewigheid…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.