Hoekom moet ék omgee oor die vervolging van Christene in ander lande?

Foto: Geopende Deure

“Vervolging van Christene? Dit is tog absurd!? En selfs al is daar dalk Christene wat vervolg word, is dit in elk geval nie iets waaroor ek my nóg kan bekommer nie – my land het genoeg van sy eie probleme!” Hierdie is die reaksie van baie Suid-Afrikaners wanneer hulle hoor van Christenvervolging in die 21ste eeu…

Vervolging vir hulle geloof in Jesus is die realiteit van meer as 245 miljoen Christene wêreldwyd. Dit is volgens Geopende Deure se jaarlikse Wêreldwaarnemingslys (WWL) wat deur navorsing en analise bepaal waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar. Die WWL, wat sedert 1993 saamgestel word, word as die mees outoritêre lys van sy soort geag.

Een van die redes hoekom mense sukkel om die realiteit van Christenvervolging te begryp, kan wees omdat dit nie veel deur die media gedek word nie, of omdat dit baie keer afgemaak word as ʼn skaars verskynsel in verafgeleë en konserwatiewe Moslemlande. In werklikheid is dit nie die geval nie. Die 2019 WWL wys duidelik dat in minstens 73 lande Christene “hoë vlakke” van vervolging ervaar.

Foto: Geopende Deure

ʼn Verdere probleme is dat die term “Christenvervolging” verkeerd verstaan word. Christenvervolging is nie net onthoofdings en marteling nie. Ja, dit is deel daarvan, maar Christenvervolging kan verskillende vorms aanneem. Die WWL-metodologie verklaar Christenvervolging as “enige vyandigheid, ervaar vanaf die wêreld, as ʼn resultaat van iemand se identifisering met Christus. Dit kan vyandelike gesindhede, woorde en aksies teenoor Christene wees”.

In baie lande gaan Christene wel gebuk onder gewelddadige vervolging, soos moord, verkragting, aanranding en gevangeneskap, en in ander lande is dit meer subtiel. Geopende Deure beskryf hierdie vervolging as “squeeze”, wat dui op die druk wat Christene ervaar in verskeie aspekte van hul lewens. Hier kan vervolging dinge insluit soos ontvoerings, dreigemente, uitsetting uit dorpies en huise, onregverdige boetes, aanhouding sonder redes, mense wat hul werk verloor of geen aanstelling kry nie oor hulle geloof, en ook kinders wat onderrig geweier word oor hulle geloof.

In verskeie lande op die Wêreldwaarnemingslys, soos Viëtnam of die Verenigde Arabiese Emirate kan buitelandse werkers en toeriste vrylik rondbeweeg en hulle geloof beoefen sonder enige probleme, maar vir die burgers van daardie land is dit ʼn ander storie. Nuwe Christene wat kies om hulle geloof (soos Islam, Hindoeïsme of Boeddhisme) of tradisionele oortuigings agter te laat en Jesus te volg, ervaar gewoonlik die ergste vervolging, wat baie keer van hul eie families en gemeenskappe kom.

So ja, vervolging is ʼn realiteit en op verskeie maniere word die Kerk van ons Jesus Christus om die wêreld heen vervolg.

Maar hoekom moet dit aan my saak maak?

Foto: Geopende Deure

Die Bybel sê duidelik dat ons almal deel is van die liggaam van Christus en afsonderlik is elkeen ʼn lid daarvan. As een lid ly, ly al die lede saam (1 Kor. 12:26). Die Woord sê verder, dat ons aan diegene moet dink wat in die gevangenis is, asof onsself ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof ons self ook mishandel word (Hebr. 1:3).

Die volgelinge van Jesus reg oor die wêreld, ongeag watter ras, jonk of oud, volk of geslag is in Jesus dus een liggaam en een familie. Ons is mekaar se broers en suster in Christus – daarom moet ons omgee vir die wat ly vir die naam van Christus. Dit is ʼn opdrag van ons Here!

Hoe kan jy omgee?

Wanneer jy vir een van ons vervolgde broers of suster vra “Wat kan ons vir julle doen?” is die eerste ding altyd dieselfde: BID! Nie gebed vir hulle vervolging nie, maar gebed dat hulle die krag sal hê sal om sterk te staan in die aangesig van selfs die ergste vervolging. Soos een broer in Indië gesing het, terwyl hulle sy familie voor hom vermoor en hy geweet het dat hy volgende is, “Ek het besluit om Jesus te volg, daar is geen omdraai nie. Die Kruis is voor my en die wêreld agter my!”

Geopende Deure Suider-Afrika ondersteun die vervolgde kerk reg oor die wêreld deur middel van gebede, projekte, Bybelverspreiding, dissipelskapsopleiding en meer. Jy kan saam met 245 miljoen van ons broers en susters in Christus reg oor die wêreld bid wat ons geloof deel, maar nie ons vryheid nie. Bid vir die wat in die tronk is, die wat gemartel word en die wat hulle geloof nie eers met hulle naaste familie kan deel nie. Ons gebede vir hulle is nou meer nodig as ooit!

Klik hier om die gratis gebedskaart af te laai wat die Top 50 lande aandui waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar. Gebruik die kaart om jou gebede te rig!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.