Gedagte vir die dag: Huishouding met Jesus as die middelpunt   

sonsondergang_familie_stiltetyd_pixabay-1.jpg

Foto: pixabay.com

“Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (Josua 24:15 – AFR83).

Josua moes die skoene van Moses volstaan en hy het homself goed van sy taak gekwyt. Deur die krag en mag van die Here het Josua die volk die beloofde land ingelei. Hy was reeds aan die einde van sy leeftyd en neem afskeid van die volk, deur dié keuse aan hulle te stel, “kies dan vandag wie julle wil dien…”

Josua herinner die volk dat die Here hulle uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Die Here het hulle beskerm en die vyand voor hulle uit verdryf. God het Homself aan hulle geopenbaar, deur kragtige wonders en Hy het aan hulle ʼn land gegee, met huise wat hulle nie gebou het nie, en met olyfbome en wingerde wat hulle nie geplant het nie. Die Vader het nie net aan hulle die nodige gegee nie. Nie net ʼn dak oor hulle koppe en kos op hulle tafels nie. Uit sy oorvloed het Hy hulle geseën. Hy het aan hulle bewerkte grond met gevestigde plantasies gegee. Daarmee kon hulle handeldryf en ʼn inkomste genereer. God het reeds vir hul toekoms voorsiening gemaak.

Hierdie keuse is net so relevant vir ons vandag as vir die Israeliete van ouds. Kies vandag wie jy wil dien. Kies vandag wie die middelpunt van jou huishouding gaan wees. Dink terug aan elke keer wat jy die Here aangeroep het, Hy jou gebede verhoor het en aan jou die deurbraak gegee het. Dink terug aan al die onverdiende guns en genade wat jy uit sy hand ontvang het. Dink aan hoeveel maal die Here jou beskerm het, baie maal, sonder dat jy selfs noodwendig bewus was, van die gevaar waarin jy verkeer. Die Here is inderdaad sonder gelyke! Kies vandag om Jesus die middelpunt van jou huishouding te maak en Hom met ontsag te dien.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.