Gedagte vir die dag: Innerlike krag – vreugde

Gelukkig_vrou_natuur_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Romeine 15:13 – AFR83)

Vreugde is soveel meer as ʼn emosie. Dit is ’n leefwyse met God as die middelpunt. ʼn Emosie is baie onstabiel en wisselvallig en ons as mense is baie feilbaar en faal in soveel opsigte, veral wanneer die lewe van alle rigtings af begin druk op ons uitoefen. Teenstand en stryd is deel van die lewe en iets waarmee elkeen van ons as gelowiges op een of ander stadium te doen kry.

Tog is die Here so getrou en het Hy aan ons die Heilige Gees gegee, ons Bemoediger. Met die Gees van God wat in ons woon kan ons enige situasie, ongeag hoe maklik of uitdagend, met dieselfde mate van vreugde en entoesiasme trompop loop!  Wanneer sy vreugde in ons harte heers, sal ons vreugde volmaak wees!

Om geestelike volwassenheid in Christus te bereik is ’n konstante groeiproses en soos ons meer en meer volwasse raak in Hom, word ons hoop in Hom ook versterk. Tot dié mate waarin ons vasgewortel bly in die hoop van sy heerlikheid sal ons ook ware innerlike vreugde in ons lewens ervaar. Hierdie vreugde kan ons alleenlik in Jesus Christus vind. Dit gee aan ons ʼn robuuste innerlike krag en die vermoë om sterk te staan teen enige aanval wat die vyand teen ons probeer loods.

Selfs in die middel van die storms van die lewe weet ons ons Hemelse Vader is volkome in beheer!  Juig, want jy is meer as ʼn oorwinnaar in Christus! Jy is ʼn uitverkorene van God, met ʼn lewende hoop! Daarom, verheug jouself, selfs in tye van beproewing, en wees vervuld met ʼn onuitspreeklike blydskap!

Swaai jou banier van oorwinning hoog deur die lug en sing en dans van blydskap, want die Here, jou Redder, gaan voor jou uit en sy mag kom agter jou aan. Die Here sal jou sterk maak van binne, Hy sal jou genees en jou in ere herstel! Die Here woon waar ons lofsange weerklink en wanneer die teëstander aangestorm kom soos ʼn rivier, jaag die Heilige Gees hom oploop. Verbly jou in die Here, gesalfde Koningskind, ek herhaal, wees bly!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.