Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,” en homself ’n nakomeling van Jakob noem. (Jesaja 44:5)
Hier in Jesaja 44:5 belowe die profeet dat die Jode se nageslag ook die Here sal dien. Dis wonderlik, want ons wil graag hê dat ons kinders die Here sal dien!
Kom ons staan vandag stil by die meer algemene vraag: Wanneer mag jy sê dat jy aan die Here behoort? Sommige kerke lê klem op God se verbond en verkiesing en ander op ’n individuele bekering – twee benaderings wat mekaar eintlik aanvul (en terloops baie te doen het met kultuurveranderings die laaste eeue).
Kom ons sny deur die teologie en bring die saak tot by jou: Jy mag sê dat jy aan God behoort wanneer jy bloot na Hom toe kom. God sal geen mens wat opreg aan God wil behoort, wegwys nie. Sy uitnodiging is aan almal wat vermoeid en belas is om na Hom te kom. So nooi ons namens Hom almal uit: Kom na Jesus toe! Sy arms is oop vir jou! As jy kom, sal jy vind dat Hy jou omhels, jou aanvaar soos jy is en jou aanneem as sy kind. Jy sal werklik Syne wees – ja, aan Hom behoort vir altyd.
Ek wil aan U behoort, Here, en ek kom. Amen.