Luister: Bid vir Jemen

Foto ter illustrasie. (Foto:
Anthony Beck/Pexels)

Dit bly uiters gevaarlik om ʼn volgeling van Jesus in Jemen te wees.

Volgens Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suider-Afrika, beklee Jemen tans die vyfde posisie op Geopende Deure se 2024 Wêreldwaarnemingslys wat op 17 Januarie uitgereik is. Die lys plaas al vir die afgelope 31 jaar die kollig op die top-50-lande waar Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar.

“Die meeste gelowiges in die land is van ʼn Moslem-agtergrond afkomstig. Aangesien Islamitiese en staatswetgewing bekering na ʼn ander geloof verbied, moet Christene hul geloof geheim hou of uiterste gevolge deur hul gesinne, die owerhede of radikale Islamitiese groepe in die gesig staar. Dit kan egskeiding, verlies van toesig oor kinders, arrestasie, ondervraging en selfs die dood insluit.”

Botha het bygevoeg die humanitêre krisis wat deur Jemen se tienjarige burgeroorlog veroorsaak is, het die druk op Christene in die land verder verhoog.

“Alhoewel noodlenigingshulp soms beskikbaar is, word dit meestal deur plaaslike Moslemgroepe en moskees versprei. Hulle diskrimineer na bewering teen enigiemand wat nie as ʼn toegewyde Moslem beskou word nie.”

Wat doen Geopende Deure om te help?

Geopende Deure ondersteun Christene in Jemen deur gebedsondersteuning te versterk, noodleniging te versprei, asook om gelowiges en pastore op te lei. Verder bied Geopende Deure deur sy vennote skuiling, beskerming en lewensondersteuning aan vervolgde gelowiges en hul families.

Bid asseblief

  • Bid vir krag en beskerming vir gelowiges wat in gebiede woon waar hulle die risiko van vervolging deur militante Islamitiese groepe ervaar.
  • Bid dat bekeerlinge van Islam die wysheid en moed sal hê om hul geloof te deel.
  • Bid vir vrede in Jemen wat jare se brutale oorloë en humanitêre krisisse in die gesig gestaar het.

Besoek www.opendoors.org.za vir meer inligting oor Geopende Deure se werksaamhede en hoe jy dit kan ondersteun. Laai ʼn wêreldkaart van Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys vir 2024 hier af.

  • Luister ook boaan hierdie berig na die volledige onderhoud met Elizabeth Botha van Geopende Deure Suider-Afrika waar sy die getuienis van Saleh*, ʼn Christen in Jemen, gee. Hy is ʼn Jemenitiese Christen wat ʼn netwerk van huiskerke in die land begin het.

*Name verander om identiteite te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.