Luister: Kom gedenk Vervolgingsondag saam met Geopende Deure

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kai Sun/Unsplash)

Daar is tans soveel as 365 miljoen Christene in 70 lande wat vervolging weens hul geloof ervaar. Syfers soos hierdie kan ʼn mens ontstel en in sak en as laat sit, maar nie vir dié Christene wat dikwels hul lewens moedig waag om die goeie nuus van God te glo en te help versprei nie.

Dit is waarom ʼn Geopende Deure nou al ʼn beroep op alle gelowiges in Suid-Afrika doen om hierdie jaar by die herdenking van Vervolgingsondag op 26 Mei betrokke te raak.

Die eerste Sondag ná Pinkster is wêreldwyd bekend as Vervolginsondag en talle plaaslike Christene besef nie altyd watter voorreg dit is om iets soos kerkklokke vrylik op ʼn Sondag te laat lui nie. In ander lande, veral dié op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, word Christene vervolg omdat hul ʼn Bybel besit en sal waarskynlik ook nooit kerkklokke hoor nie.

Tog keer dit nie hierdie Christene nie.

Nou nooi Geopende Deure Suider-Afrika, ʼn organisasie sonder winsoogmerk wat vervolgde gelowiges bystaan en versterk, almal om deel van dié Christene se triomfantlike storie van geloof en dapperheid te midde van vervolging en diskriminasie te wees.

Ondersteun die herdenking van Vervolginsondag só:

  • Jy kan ʼn spreker van Geopende Deure versoek om by jou kerk op te tree. Mense kan ook in hul individuele hoedanigheid self aanmeld om op Vervolgingsondag oor hierdie tema te praat.
  • Gemeentes kan hul kerkklokke laat breier vir Vervolgingsondag op 26 Mei om 09:00.
  • Gemeentes kan ʼn kollekte opneem vir die vervolgde kerk op dié Sondag. Die kollekte sal dan spesifiek aangewend word om ons vervolgde broers en susters by te staan.
  • Gemeentes, individue en kleiner groepe kan ook tyd opsy sit om vir vervolgde Christene te bid.

“Mense mag dalk dink dit is ʼn geringe manier, maar as ons die mense gaan besoek in die lande waar hulle weens hul geloof vervolg word, is hul eerste versoek altyd om vir hulle te bid. Gebed is kragtig,” het Elizabeth Botha, mediabeampte by Geopende Deure Suider-Afrika, gesê.

Besoek gerus www.opendoors.org.za vir meer inligting oor Geopende Deure se herdenking van Vervolgingsondag. Jy kan ook Geopende Deure se kantoor by 011 88 9341 bel.

  • Maroela Media het aanlyn met Elizabeth Botha van Geopende Deure oor Vervolgingsondag gesels. Sy het verduidelik hoekom dit belangrik is dat almal bewus moet wees van die vervolging van Christene in ander wêrelddele. Luister boaan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.