’n Dag in die lewe van ’n geheime gelowige in Noord-Korea …

Bae* het haar kortstondige vryheid in China verruil vir ʼn lewe van voortdurende hongerte en harde plaasarbeid in Noord-Korea (Foto verskaf)

Geloof in Jesus kan ʼn doodsvonnis wees in Noord-Korea. Daar is na beraming sowat 400 000 Christene in hierdie land – en hulle is almal geheime gelowiges. Indien hulle gevang word, kry hulle summier die doodstraf of word in strafkampe gevange gehou.

Noord-Korea is vanjaar in die tweede plek op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys vir die top-50 lande waar Christene die ergste vervolging ervaar – nadat die land die vorige 20 jaar die topposisie op die lys beklee het. Hoewel Noord-Korea na die tweede plek gedaal het, is die vervolging erger as ooit tevore en het dit die afgelope tyd rekordhoogtes bereik.

Gearresteer vir ʼn Bybel

Bae*, ʼn geheime gelowige wat na ʼn klein landelike dorpie in die berge van Noord-Korea verban is omdat sy Jesus volg, is een van dié wat voortdurend ervaar hoe die onverbiddelike druk op Noord-Koreaanse Christene toeneem. Sy is gearresteer en na die afgeleë dorpie gestuur nadat sy met ʼn Bybel betrap is.

Hier bly sy in ʼn eenvoudige hut saam met ander Christene. Die dorpie is soos ʼn tronk, waar hulle streng dopgehou word en die toegangsroetes bewaak word om te verhoed dat hulle ontsnap. Sy is onder die “gelukkiges” – lewendig, maar gevonnis tot lewenslange swaarkry en dwangarbeid.

“Ek moet harde hande-arbeid in ʼn plaasomgewing verrig en elke dag ʼn sekere werkskwota behaal met die pluk van gewasse om addisionele strawwe vry te spring. Wanneer ek my oë soggens oopmaak, voel ek egter ons Vader se teenwoordigheid aan en weet ek dat Hy vir ons sal sorg,” vertel sy.

Voortdurende hongerpyne

Soos al die ander mense in haar dorp, is Bae heeltemal verhonger en ondervoed. “Die regering gee vir ons kos, maar dis net genoeg om ons aan die lewe te hou sodat ons kan werk. My ontbyt is nie genoeg om die knaende hongerpyne in my maag stil te maak nie. Ek is nie honger genoeg om dood te gaan nie – ten minste nog nie. Maar die honger is altyd daar en knaag aan my beendere.

“Wanneer ek ʼn blaaskans by die werk kry, gaan soek ek in die woud vir sampioene en plante om die gegrom in my maag beter te maak. Ek kry eers weer nog ʼn maaltyd wanneer my werksdag teen skemeraand ophou – ʼn bietjie waterige sop en as ek gelukkig is, ook ʼn bietjie rys,” vertel sy.

Brood van die lewe

Bae* begrawe haar geheime Bybel onder boomwortels en blare in die woud (Foto verskaf)

Later in die aand glip Bae weer stilletjies uit na die woud om haar geheime Bybel onder die boomwortels en blare uit te grawe, waar sy dit wegsteek. By die huis wag haar huismaats haar in nadat hulle die vensters met komberse toegemaak het en ʼn dowwe kersie aangesteek het. Dan lees sy vir hulle uit die Bybel: “Die mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit God se mond kom.”

Sy getuig vurig: “Die ding waarvoor ek die dankbaarste is, is dat God my gebruik om as sy dienaar te werk. Ek begeer om my lewe tot die dood toe daaraan te wy om Hom te vereer.”

ʼn Dapper keuse

Sy het eenkeer lank gelede daarin geslaag om te ontsnap en oor die grens na China te vlug, waar sy by ʼn skuilhuis beland het wat deur Geopende Deure se vennote bedryf word. Daar kon sy openlik saam met ander Christene aanbid en samesyn ervaar – iets wat in Noord-Korea onmoontlik is.

Hoewel sy permanent by die skuilhuis kon bly, het sy verkies om ondanks die gevaar na Noord-Korea terug te keer en die kos, medisyne en nuwe Bybel wat sy ontvang het met geheime gelowiges in haar tuisland te deel.

ʼn Netwerk van ondersteuning

Geopende Deure werk deur geheime netwerke in China om Noord-Koreaanse Christene soos Bae te ondersteun en aan die lewe te hou. Ons geloofsfamilie in Noord-Korea en in ander lande met uiterste vervolging het jou ondersteuning en gebede nou meer nodig as ooit tevore.

Klik hier om jou GRATIS Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai en begin vandag nog vir jou vervolgde familie bid sodat hulle weet dat hulle nie alleen staan te midde van vervolging nie, selfs nie in plekke soos Noord-Korea nie.

*Naam verander vir sekuriteitsredes en foto’s ter illustrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.