Gedagte vir die dag: God het ʼn plan lank voor jou bestaan gehad!

see_rotse_hemel_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” (Jesaja 55:8 – AFR83)

Jy is nie sommer maar net geskep, sonder rigting en sonder rede nie. Ons hemelse Vader het elke tree op jou lewenspad sorgvuldig beplan. Soms mag óns dalk afwyk van sy wil, maar die pad wat Hy na ons eindbestemming gebaan het, bly vasstaan.

Jy is die somtotaal van dit wat jy liefhet en waarin jy vreugde vind, dit waarvoor jy lewe, waarin jy glo en waarop jy hoop. Laat God toe om Here in jou lewe te wees. Ek het lankal reeds tot die slotsom gekom: God is die Skepper van my lewensverhaal en deur die kragtige werking van die Heilige Gees in en deur my kom my storie tot lewe.

As ons kyk na ʼn ontwerpershorlosie met al sy komplekse fasette: Wie ken die skeppingsdoel, die werking en die dinamika van daardie horlosie beter as die skepper daarvan? Net so ook is dit die geval met elkeen van ons. God, ons Vader en ons Skepper, ken ons lewensdoel, dit waarvoor Hy ons afgesonder het, beter as enigeen van ons. Hy weet wat in ons gedagtes en in ons harte aangaan. Hy ken ons blydskap en Hy ken ons seer.

Hy ken ons dinamika. Ons Vader weet waartoe ons in staat is, deur die kragtige werking van sy Gees in en deur ons. Dit is sy wil om ons deur sy Heilige Gees van binne te versterk en op te bou. Ons is geskep om invloedryk te wees, deur die dinamietkrag van die Heilige Gees wat deur ons werk.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.