ToekomsVenster: Afgereken met sonde sodat ons kan leef

Argieffoto (Foto: Aaron Burden/Unspalsh)

“Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.” – 1 Korintiërs 15:53 (AFR83)

Paulus se skrywe aan die gemeente in Korinte help sommer baie wanneer ons oor die dood nadink. Dit is veral verse 54 tot 57 wat die Evangelie op ʼn besondere wyse opsom.

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Enersyds beleef ons die dood as ʼn bedreiging. Ek dink nie daar is mense wat, selfs al glo hulle, die dood as ʼn vriendelike entiteit beleef nie. Dis vreemd en dra die karakter van die vyand. Dit voel asof dit ons wil ons beroof, iets van ons wegneem, ons te na wil kom en verneder.

Paulus sê sekere mense behoort bedreig te voel:

Mense wat nie met die kruisdood van Jesus rekening hou nie.

Mense wat dink dat hulle op eie meriete by God kan uitkom.

Mense wat dink dat hulle God nie nodig het nie en tot aan die einde met die ingesteldheid bly leef.

Mense wie se harte so verhard is dat niks hulle verander nie.

Mense wat uitdagend voor God kom staan en met sy Goddelikheid spot.

Helaas, daar is inskrywings op onder andere Facebook wat my hewig ontstel. In die onlangse verlede het daar ʼn bord iewers op ʼn hoofpad in die Vrystaat verskyn wat mense maan om gereed te maak vir die wederkoms.

Of die tipe “advertensie” die beste metode is om die Evangeliese waarhede te kommunikeer, weet ek nie. Die spottende inskrywings egter op sosiale media, het my na my asem laat snak.

Ek herinner my aan die waarskuwing, vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. Lees gerus Hebreërs 10:31.

Paulus gebruik die metafoor “angel” as hy na die saak verwys wat ons van God skei.

Sonde bring verwydering tussen mense en God.

Die begrip sonde is nie so maklik om te vertaal en te verstaan nie. Die vraag of iets sonde is al dan nie, gee aanleiding tot lang besprekings.

Ek dink nie ons moet so sondebehep raak dat die lewe by ons verbygaan nie.

Ek dink as ons eenmaal met die werklikheid van ons eie verlorenheid sonder Christus nagedink, en sy genade omarm het, dat ons met oortuiging en oorgawe kan leef.

Ons noem dit ʼn lewe van dankbaarheid.

Wie in Christus glo het die Heilige Gees as ʼn teenswoordige werklikheid.

Met verdrag ontwikkel ons ʼn aanvoeling vir wanneer die Heilige Gees ons daarop wys dat die wyse waarop ons optree, die keuse wat ons maak, die manier waarop ons ons gedra, nie die Christus karakter verteenwoordig nie.

Ons bely, erken dit en kry dit uit die weg deur gewoon jammer te sê.

Jesus het klaar betaal. Ons is nie meer bang nie. Die dood is geen bedreiging meer nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.