ToekomsVenster: Afsondering en dankbaarheid

(Foto: Anton Darius/Unsplash.)

My vrou, Suzette, vertel my vanoggend van ʼn boodskap wat sy ontvang het wat na die 21 dae van afsondering as die “fees van afsondering” verwys.

Die skrywer vertel dat sy aanvanklik baie negatief gevoel het oor hierdie tydperk totdat die Heilige Gees haar oortuig het om anders daarna te kyk. Dit bring haar by die mooi en betekenisvolle term; “die fees van afsondering”.

Soos dikwels weet ʼn mens nie wie die outeur van so ʼn boodskappie is nie omdat dit, welmenend, van persoon tot persoon aangestuur word. Ek leen dus met vrymoedigheid die gedagte en wil in die dae wat voorlê inhoud daaraan probeer gee.

Dit is absoluut waar dat die manier waarop ʼn mens dink oor ʼn saak ʼn direkte invloed op jou belewenis het. Lees Rom. 12 waar daar ’n beroep op ons gedoen word om ons gedagtewêreld te transformeer en ons denke te vernuwe.

Dat die tyd van isolasie uitdagend gaan wees staan soos ʼn paal bo water. Mense is van nature sosiaal. Ons het interaksie nodig en wil aan mekaar raak. Om in afsondering te leef is onnatuurlik en kan ʼn gevoel van vereensaming en depressiwiteit tot gevolg hê.

Kom ons kry ons denke in ʼn ander rat, besluit by voorbaat dat ons individueel en gesamentlik baie beter toegerus uit die “stryd” gaan tree. Ons vertrou voorts dat die virus in sy spore gestuit sal word en dat die Here ons sal bewaar.

ʼn Mens dink onwillekeurig aan kontekste waar afsondering feitelik onmoontlik is. Daar is honderde woonbuurte met seker miljoene Suid Afrikaners waar opslaanhuise teenoor en langsaan mekaar geparkeer staan. Ontoereikende ablusie geriewe word gedeel en die infrastruktuur is verder onmenslik gebrekkig.

Mense staan met emmers by handpompe om water uit die grond te trek. Grys water (ʼn gesofistikeerde woord vir riool) loop in die pad af waar kinders speel. Daar is van privaatheid geen sprake nie en almal se besigheid is net dit, almal se besigheid.

Daar is baie ander vergelykende scenario’s waar afsondering ook nie so ʼn eenvoudige aangeleentheid is nie.

Dit is veral wanneer ʼn mens klein kindertjies in die huis het dat die uitdagings groot raak.

Sommige (baie) mense kon nie nood aankope doen nie omdat die middele nie beskikbaar is nie. Gesonde dieet is iets wat nie ter sprake kom in ʼn konteks van oorlewing nie.

Ander moes tot op nr. 99 werk. Dit het my opgeval dat bv. tuisdienste tot Donderdag, laatmiddag nog gelewer is. Ek het gewonder oor die werkers en of dit regtig belangrik is dat die gras gesny moes wees.

Daar is uiteraard talle noodsaaklike dienste wat moet voortgaan in ʼn tyd soos hierdie. Dit stel mense se lewens in gevaar en geskied ten koste van hulle. Veral mediese dienste kom by ʼn mens op. Daar het jy nie die luukse om behandeling te weier nie.

As ek weer ʼn slag oor die “ongerieflike” afsonderingstydperk nadink, stukkie tuin rondom my huis, iets in die yskas, sosiale media en WiFi, TV en radio, boeke en tydskrifte, koffie en Coke, persoonlike gesondheid en immuniteit, is ek skielik skaam dat ek dalk nie so dankbaar is as wat ek behoort te wees nie.

Mag die Here onderneem waar die uitdagings groot en onhoudbaar is.

Ek bedink die woorde van ʼn eenvoudige liedjie wat ek geskryf het:

Ek dank U Here vir ʼn nuwe dag

Ek dank U Here vir U wondermag.

U kom as mens, verlaat U troon

U kom by ons op aarde woon.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.