ToekomsVenster: Alles sal uitwerk

(Foto: Ross Sneddon/Unsplash)

Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.  – Jesaja 55:8-9

Legkaarte, ek wonder of daar ʼn  mens is wat nog nie ten minste probeer het om ʼn legkaart te bou nie. Ek het al bely dat ek dit frustrerend vind maar dit maak nie dat legkaarte nie relevant is nie. Ek is in lyn met my persoonlikheid meer ongeduldig en op aksie ingestel. Ek doen graag en moedig ander mense uit om by doen uit te kom. Tog verskil ons van mekaar en is die aangewese om mekaar in liefde te verdra. Ek het die grootste waardering vir mense wat ʼn  komplekse legkaart met geduld en vernuf aanmekaar kan timmer.

Duisende stukkies op die tafel maar hoe pas die goed by en inmekaar, is die vraag?

Jy identifiseer stukkies wat duidelik deel van jou storie is en moet wees. Dit maak sin en jy kan al begin om die buitelyne van die meesterstuk wat gebou word aan mekaar te sit. Mens begin mos, hoor ek mense sê, by die raamwerk. As die raamwerk net eers in plek is, is die res veel makliker.

Dan het jy darem ook die prentjie op die houer. As jy noukeurig oplet kan jy dalk tog identifiseer min of meer waar die stukkie sy rus gaan vind.

Dan weer is daar stukkies wat jy hoegenaamd nie kan eien nie, net soos in ʼn  mens se lewe.

Jy was so goed op koers en toe gebeur daar dinge wat jou heeltemal ontwrig en met meer vrae as antwoorde gelos het.

Die leer van sukses was reeds opgeslaan en jy het goed gevorder en toe word jy die slagoffer van regstellende aksie of iets dergeliks.

Gister het jy die Here nog geloof en geprys dat dinge so mooi uitwerk maar nou weet jy nie meer nie.

Die uitnodiging om oorsee mee te ding is reeds geantwoord en jou tasse reeds gepak en toe toets jy positief vir Covid-19 en al jou planne is na die maan.

Jy was so seker dat sy die regte persoon is om die lewe mee te deel en toe…

Nou is jy totaal en al ontwrig, ontsenu en onseker. Jy verstaan nog jouself nog God. Jy is dalk selfs kwaad vir Hom.

Hoe kan Hy so iets aan jou doen?

Ek het nie antwoorde nie, uiteraard nie. Ek het ook al sulke ervarings gehad en sal seker nog daarvan hê.

Iewers moet ek iets kry om aan vas te hou. Jy ook. Ek vind troos in die belofte – “vir hulle wat God liefhet, werk alles goed uit” – as ek dit sommer vry mag vertaal.

Mag die Here vandag vir jou lewe geloofsmoed gee om nie handdoek in te gooi nie.

Alles sal uitwerk, sy beloftes is daarvan die waarborg.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.