ToekomsVenster: Bekommer is ’n ander soort komkommer

(Foto: Artem Kovalev/Unsplash)

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? – Matteus 6:25

Ek is seker jy ken die oulike en bekende liedjie, “Ek’s ʼn dapper muis, daar is niks waarvoor ek skrik nie”. Dan word die muis met velerlei uiteenlopende moontlike gevare gekonfronteer. Hy verklaar dan ewe kordaat dat – daardie goed uitgesluit – daar steeds niks is waarvoor hy skrik nie. Dan kom die koor van stemme wat met oortuiging verklaar – “jy jok!”

Ek weet nie hoeveel van ons die dapper muis speel nie, maar ek waag om te sê dat daar ʼn veelheid van sake is wat ons bekommerd wil laat. Wat ek probeer sê is dat kommer te ene male deel van menswees is, sonder om dit te verskoon of te regverdig.

Die Bybel oordeel en veroordeel nie. Ek glo dat Jesus met groot empatie praat wanneer Hy hierdie aan sy gehoor voorhou tydens die bergpredikasie. Ek dink Hy wil die belangrikheid van vertroue op Hom, wat in alle opsigte in staat is om ons te dra, onderstreep. Om te bekommer is tydmors, dit is energie wat onnodig verspil word. Ons sal later in hierdie week daarby kom.

Dat Jesus ernstig is oor sy oproep dat sy volgelinge hulle nie sal bekommer nie, is duidelik. Die belangrikheid daarvan word drie keer onderstreep. Moenie, moenie en weer moenie.

Die oorspronklike term het te doen met iets wat jou in ʼn wurggreep het. Jy kry nie asem nie, jy sien nie lig nie. Nagte lê jy en om wroeg, jy maak planne, maar weet dit is futiel.

Daarteenoor is die res van die geskape werklikheid vir ons ʼn voorbeeld van geloofsvertroue.

Dit is die begin van ʼn nuwe jaar. Terugskouend kan ʼn mens vra hoe kommer ons in die verlede gehelp het. As dit ʼn positiewe en vrugbare oefening was, gaan gerus daarmee voort. Ek wil dit egter waag om te sê dat dit net mooi niks opgelos het nie. Die goed waaroor jy besorg was, het tien teen een nie gebeur nie. Om jou te bekommer, is sinneloos en tydmors.

Wil jy nie ʼn gehaltebesluit maak dat jy onder begeleiding van die Heilige Gees, die Woord en die talle beloftes daarin vervat, gaan klaarmaak met bekommernis nie?

Ons bid vir mekaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek die mandjie met goed wat my pla by U voete kan los…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.