ToekomsVenster: Bid daaroor

(Argieffoto: Pixabay)

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. Moenie onverstandig wees nie, soos ʼn perd of ʼn muil wat met ʼn stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.” – Psalms 32:8-9

Sjoe, ʼn mens kan darem hardkoppig wees. Maak nie saak wat wie sê nie, jy slaan doodgewoon jou eie koers in sonder om jou aan enigiemand te steur.

Dit is ongetwyfeld somtyds waar van my, en ek wil my verstout om te sê dat jy ook daarmee kan identifiseer. Jy sal eers deur die ongelukkige, en dikwels hartseer, oefening gaan voordat jy na ander se goedbedoelde raad luister.

Uiteraard beteken dit nie dat ʼn mens nie jou eie besluite moet en kan maak nie. Immers, jy is jou eie mens. Ruggraatloosheid is nie mooi nie. ʼn Mens plons nie sommer in ʼn patetiese hopie neer net omdat iemand anders van jou verskil nie. ʼn Mens loop nie konsekwent die weg van die minste weerstand nie.

Daar is inderdaad tye wat die kool die sous nie werd is nie en dit beter is om doodgewoon saam te vloei. Dit moet egter die uitsondering, nie die reël wees nie. Wees jou eie unieke mens, maar konsulteer wyd en intelligent. Vra mense wat weet, kry ʼn mentor en toets jou idees, meer nog, bid daaroor.

Die Bybel sê, die vrede van God sal en moet jou lei in al jou besluite.

Om ʼn besluit te maak en deur te voer terwyl daar groot onstuimigheid aan jou binnekant woel, is dom. Hoe moet die Here dan tot jou deurdring? Die onstuimigheid is moontlik van die Heilige Gees.

Neem tyd en probeer verstaan wat aan die gang is. As dit vrees is, wil die Here jou versterk. As dit egter die verkeerde besluit is, wil Hy jou bewaar van die chaos wat mag volg.

Die teks wat vandag aangehaal word, is mooi en besonders. Wie beter om ʼn mens in jou besluitneming te adviseer as juis die Here. Hier belowe Hy dit. Hy stel intens belang in dit waarmee jy besig is. Hy het mos ʼn plan vir jou lewe en wil jou gaande weg lei om dit te verwesentlik.

ʼn Steeks donkie kry niks gedoen nie. Hy moet in die bek geruk word.

Moenie dat hardkoppigheid jou spreekwoordelik in die bek ruk nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat ek verseker kan wees dat U deur storms by my is…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.