ToekomsVenster: Bid, selfs in jou donkerste uur

Foto: Akira Hojo/Unsplash.com

Daarna kom Jesus met sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” – Matteus 26:36

Dit was ʼn donker uur in Jesus se aardse omwandeling. Hy het ongetwyfeld geweet wat vir Hom voorlê en ons vind Hom wroegend in die tuin van Getsemane en in gebed met sy Vader. Hy weet sy Vader kan die beker laat verbygaan. As Hy daarop aandring, sal die Vader dit waarskynlik doen. Tóg weet Hy dat die hele menslike geslag verdoem word tot ʼn ewigheid sonder hoop en sonder God.

Een moet vir almal sterwe, dit sal wees asof almal gesterf het omdat hierdie offer genoegsaam is vir die hele menslike ras. Dit maak die stryd nie makliker nie. Na sy mensheid is Jesus nie gevrywaar van die pyn, lyding en vernedering wat vir Hom voorlê nie.

Die spykers sal in sy hande en voete sny net soos by ander mense. Die kroon sal sy hoof stukkend steek net soos dit sal gebeur as dit aan ʼn ander mens gedoen word. Die stukkies been aan die karwats waarmee Hy geslaan word sal sy lyf oopkloof net soos dié van enige ander mens. Die eensaamheid as sy Vader vir ʼn oomblik sy aangesig verberg sal ewe ondraaglik wees as vir enige ander mens.

Sou dit ander aangedoen word soos met die misdadigers aan die kruis, sou dit geregverdig, alhoewel onmenslik wees. Wat Hom aangedoen word, is nie net onmenslik nie, dis arrogant en vernederend omdat Hy geen skuld in Homself het nie.

Getsemane, plek van wanhoop en swaarkry. Jesus bid.

Dis wat jóú Getsemane sin gee al moet jy daardeur. Omdat Jesus Getsemane verduur en verdra het, is ons verseker dat God ons ook daar ontmoet. Hy is Immanuel (God met ons). Altyd en oral.

Beleef jy iets van Getsemane in jou menswees op hierdie oomblik?

Bid.

“Gebed is nie om God se onwilligheid te oorkom nie, maar om toegang te kry tot Sy bereidwilligheid.” ~ Martin Luther

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DONKER ·

In die donkerste uur is BID die enigste lig -praat met die EEN wat die situasie kan verander

Dries ·

Ons Koning,Verlosser en grootste Vriend sal ons nooi begeef en ons nooit verlaat nie, Hy sal mooi na ons kyk!

Elzet ·

Dankie my dierbare Vader vir wat U vir ons deurgegaan het…
Mag ons dit nooit vergeet nie. Dankie vir U liefde wat ons almal omvou en vir U genade wat nooit ophou nie. Here, dankie dat U niemand van ons ooit sal verlaat nie al voel ons hoe alleen partykeer. Dankie dat U naby is, daar vir ons U. Mag ek nooit ophou bid nie, en mag en nooit U hand los nie, maak nie saak hoe donker dit om my raak nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.