ToekomsVenster: Bid vir die kerk

gebed-hande-kerkbankie-deur-himsan

Argieffoto (Foto: Himsan/Pixabay.com)

Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. – Efesiërs 6:18

Gebed is ʼn genadegawe inderdaad. Probeer jou die geloofslewe sonder gebed voorstel. Onmoontlik. Tog skeep ons gebed meer dikwels af of sukkel ons om ons entoesiasme daarvoor te behou.

Mag die Here ons nuut inspireer tot ʼn lewe van gebedstoewyding.

Ons het hierdie week oor verskeie sake gebid. Dankbaarheid, die nood van die wêreld en Suid-Afrika was in ons visier.

Vandag wil ek graag saam met jou bid vir die kerk, nie ʼn spesifieke denominasie nie, maar die kerk van Christus in ons mooi land.

Die kerk is die versameling, ten minste teoreties, van mense wat in ʼn geloofsverhouding met die Here staan. Jy het deel aan die kerk vanweë jou getuienis dat Jesus jou persoonlike Verlosser en Saligmaker is.

Die kerk is ʼn toevlugsoord; sy deure behoort altyd oop te staan vir alle mense.

God is met mense, alle mense op weg en ons moet nie in sy pad staan deur ons eie vooroordeel en teologiese voorveronderstellings nie.

Kom ons bid vandag vir die kerk:

“Here, Koning en Hoof van die kerk. Die kerk is U liggaam en ons is lede daarvan. Dit is ʼn voorreg.

Die kerk, ja elke plaaslike gemeente is ʼn uitdrukking van U Koninkryk.

U Koninkryk word deur liefde en diensbaarheid gekenmerk. Die deure van U Koninkryk staan oop. Almal wat dors het, almal wat honger het, almal wat nood het, is welkom.

U kerk is die versameling van mense wat oorstelp van dankbaarheid is. Immers, die Kerk is ʼn die versameling van mense wat eens op weg was na ʼn ewigheid sonder U.

Ons is so dankbaar om deel van die kerk te wees.

Here, U kerk word as ligdraer geroep in ʼn  tyd soos hierdie. Die duisternis dreig om ons te oorweldig. Die kerk voel ook die impak van die krisis waarin die wêreld, ook Suid Afrika verkeer.

Ons moet bely dat die kerk se agendas en vergaderings nie altyd die nood van die wêreld as vername agendapunte het nie.

Dit voel somtyds asof U kerk so hard probeer om sommige uit te sluit.

Ons gesels jaar in en jaar uit oor dieselfde sake.

Ons bly agter terwyl ons strategies die pas moet aandui.

Ons het dalk ons ywer verloor. Ons het dalk in sommige opsigte soos een van die sewe gemeentes in Openbaring geword, gemeentes vir wie moes teregwys.

U Woord sê, die oordeel begin by die huis van God.

Here, wees ons genadig.

Help ons om te onderskei waarop dit regtig neerkom en om daarmee besig te wees.

Vergewe ons dat ons die bronne wat U tot ons beskikking stel spandeer op beuselagtighede.

Ons het U nodig, Here. Help ons in Jesus se Naam.

Amen.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.