ToekomsVenster: ‘Daar is ’n dierbare kruis’

(Foto: Matthew T Rader/Unsplash.)

“Ons oë is nie op die sigbare dinge gerig nie maar op die onsigbare. Die sigbare dinge is tydelik, die onsigbare ewig”. – 2 Kor. 4:18

Daar in ʼn paar goed wat saam met ons trek wanneer ons verhuis. Een daarvan is ʼn bordjie waarop staan “God sal sorg”. Dit hang onder aan ʼn boom se tak waar ons dit gedurig kan sien.

Dan is daar ʼn ruwe kruis. Twee planke wat in die middel aanmekaar gekap is en twee kettings wat van die kante af hang. Die woord “vrede” in geroeste sinkagtige metaalletters is ook daarop aangebring.

Dit staan in die hoek van ons tuin, eweneens tussen die struike en bome. Net onder staan ʼn paar krismisrose wat ek by iemand wat alles uit sy tuin uitgehaal het geneem en in die grond kom druk het. Twee van hulle begin skaam, skaam rigting kry.

By ʼn goedkoopwinkeltjie het ek ʼn string liggies gekoop wat met sonkrag werk. Bedags laai die battery en saans vir ʼn uur of wat is die kruis helder verlig.

Wanneer ek na die kruis kyk begin die woorde van die bekende Halleluja waarmee ek grootgeword het in my gedagtes speel.

Daar’s ’n dierbare kruis,

waar my Heiland bewys

die liefde wat Hy vir my het;

Daar is alles voldaan

en die vyand verslaan,

Daar word ek van sonde gered.

Daar is so baie dinge wat ek nie verstaan nie. In hierdie tyd van ongemak en onsekerheid, wêreldwyd, wonder ek dikwels hoe en waar God inpas. Ek vra waarom Hy die Covid-19-pandemie nie keer nie en waarom mense sterf?

Dan weer moet ek ook vra waarom ek nog gesond is terwyl baie ander geïnfekteer is.

Dit is raaisels waarvoor ons  nie antwoorde in hierdie lewe sal ontvang nie.

Maar as ek die kruis sien, die leë kruis, die plek van versoening, vergifnis, lewe en vryspraak, dan weet ek, ons, is nie sonder hoop nie.

Watter simbole van genade is daar in jou omgewing?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here Jesus my hoop is in U gevestig nie net vir nou nie maar vir die ewigheid…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.