ToekomsVenster: Die boom is nie dood nie

(Foto: Arun Clarke/Unsplash)

“ʼn Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ʼn loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” – Jesaja 11:1-2 (AFR83)

Gister het ek vertel van my blou Donderdag. Ja, ek weet, Maandae is veronderstel om blou te wees, maar my dae het onder mekaar uitgeruil, natuurlik sonder om my iets te sê of te waarsku. Eintlik was die blou versteek, want die afgelope paar dae was die weer traag, somber en donker. Nog ʼn simbool terwyl ons van simbole praat.

Ek funksioneer moeilik as dit troebel vertoon buitekant. Ek hou van sonskyn, en sommer baie daarvan. Ek hou van die gloed van ʼn mooi dag, voel energiek en gemotiveerd, maar wolkies wat laag en lusteloos hang maak my sommer moeg. Interessant hoe ons van mekaar verskil, nie waar nie?

Nietemin, so ry ek na ʼn plek waar ek ʼn leeftyd gewerk het. Dis ʼn baie spesiale plek en sal altyd kosbaar bly. Ja oukei, dis ons gemeente waar ek meer as 35 jaar predikant was. Die mooiste herinneringe, ja ook uitdagings, is daar gestoor. Intussen het ek mos afgetree en besig geraak met talle ander dinge.

Voor die gebou staan daar net ʼn stomp waar ʼn mooi boom gestaan het met, soos ek my herinner, skadu vir een en elkeen. Navraag bevestig dat die boom klaarblyklik uitdagings gestel het en ietwat in die bek geruk moes word. Dis ook nie my boom nie en ek is ook nie meer ʼn amptenaar by die gemeente nie en tog is ek so ontstel daaroor dat ek bykans die hele dag sukkel om daaroor te kom.

By die gimnasium peins ek oor die boom-episode. Waarom ontstel die boom my so?

Dit is nie my boom nie, staan nie by my huis nie, ek het dit nie geplant nie, ek het geen seggenskap daaroor nie en die rede waarom dit afgesny is, is legitiem.

Dan besef ek dat die boom as metafoor iets te sê het oor my lewe. Trouens, dat die Here iets te sê het oor my lewe.

Dis al ʼn geruime tyd dat ek die gewaarwording het dat ʼn nuwe seisoen aanbreek. As ek die boom nie kan laat gaan nie, kan die belofte van die nuwe nie in werking tree nie. Ek klou verbete aan die boom vas. Dit definieer my, dit is ʼn verwysingsraamwerk, dit help om sin te maak van my menswees.

Dit alles mag waar wees, maar die boom is nou af.

Iewers op dieselfde perseel staan nog ʼn boom wat heel onlangs dieselfde lot moes ondergaan. Vergeet die rede daarvoor, dit was uiteraard geregverdig. Die stomp egter loop welig groen uit. Dit is asof die boom sê, ek is nie dood nie, dis net ʼn nuwe seisoen.

Daar is lewe in die boom, al lyk dit of daar nooit weer ʼn takkie sal uitspruit nie.

Jesus was eweneens die groen spruit wat uit die ou Verbond, wat mense nie regtig met God kon versoen nie, moes uitloop. Daardie beskeie takkie het die Verlosser van die wêreld geword.

Moenie opgee nie, dis net ʼn seisoensverandering.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.