ToekomsVenster: Die Here het my mooi gemaak

(Foto: Juan Giraudo/Unsplash)

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” – Genesis 1:1 (AFR83)

Ek is dol oor kinderliedjies en sing dit heerlik saam met ons kleinkinders. Van tyd tot tyd kry ek die geleentheid om ʼn kinderdiens aan te bied en geniet elke oomblik daarvan. Dit geld, in besonder, vir ons betrokkenheid by Appelpark se kinders.

Dis “Stapsoldaatjie”, “Kyk hoedat die voëltjies vlieg”, “Daar’s vissies in die water” en “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen”.

Soms voel dit of ons hierdie groot geloofswaarhede vergeet wanneer ons groot word, of wat sê ek alles?

Dan natuurlik is daar die baie gewilde “Die Here het my mooi gemaak, Hy’t my baie, baie mooi gemaak”. Ons gesels hierdie week daaroor.

Uiteraard is uiterlike skoonheid ʼn gawe, maar ook ʼn baie groot verantwoordelikheid. Helde op die TV-skerm is gewoonlik aantreklike vroue en gespierde mans. Wie van ons het nie al heimlik gewens dat ons so kon lyk nie?

Net tussen hakies, wie besluit dat iemand buitengewoon aantreklik of mooi is? Dit is geheel en al subjektief van aard en word soms ook kultureel bepaal. Mense verskil en so ook elkeen se definisie van wat dan kwansuis mooi is.

Die meeste van ons is egter redelik gemiddeld en dit is ook goed so. Gawes verskil en ek dink uiterlike skoonheid en aantreklikheid is inderdaad ʼn gawe wat met verantwoordelikheid bestuur moet word. Dit bring uiteraard ander versoekings en uitdagings op die toneel, dít terwyl die lewe vir my gevoel reeds heeltemal gekompliseerd genoeg is. Ons het nie nog spanning nodig nie.

Daar is natuurlik die werklikheid dat selfs uiterlike skoonheid met verdrag vervaag. Veroudering is almal wat lank genoeg leef beskore en dit is onafwendbaar dat ʼn mens iets van jou soepelheid, rimpelvrye voorkoms en gespierdheid sal verloor. Dit is die verloop van die lewe.

Terug by die liedjie onder bespreking; “Die Here het my mooi gemaak”.

Mooi omdat elkeen ʼn beelddraer van die lewende God is. Elke mens herinner dus aan die God van hemel en aarde. Wanneer ons na mekaar kyk moet ons van God bewus word. Ons is heenwysers na die Vader.

Wie sou Hom ooit daarvan wou beskuldig dat Hy nie ʼn goeie werk gedoen het nie? Soos met alles wat Hy skeppingsmatig gedoen het verklaar God dit goed, uitnemend, besonders, ideaal, merkwaardig, sommer net oulik, soos net kinders kan wees.

Wanneer laas het jy oor jou liggaamlikheid gedink en hoe voel jy daaroor?

Kla jy oor dit wat jy nie het nie − ons almal sou ʼn bietjie meer of minder van dit of dat wou hê − of verwonder jy jou aan dit waarmee die Here jou reeds geseën het?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.