ToekomsVenster: Die huwelik as hegte eenheid

(Foto: Ylanite/Pixabay)

Die formulier sê verder:

Die huwelik is ʼn hegte eenheid waarin daar geen plek vir ʼn derde persoon is nie.

God het ʼn orde, eers ons verhouding met Hom, dan met ons lewensmaat, dan ons gesin, dan ons familie en vriende. As ons hierdie orde omkeer het ons probleme. Dit is ook die rede waarom sommige verhoudings skipbreuk lei.

Uiteraard kom God en ons liefde en lojaliteit teenoor Hom altyd eerste. Hy is die rede vir ons bestaan en sonder Hom is ons letterlik en figuurlik verlore. Ons verhouding met Hom moet gesond, gebalanseerd en realisties wees.

Die Bybel stel dit duidelik dat ons nie met ʼn ongelowige in dieselfde juk mag trek nie. Om willens en wetens met iemand te trou wat nie dieselfde Christelike vertrekpunt as jy het nie, is gevaarlik. Sou jy egter tydens jul huwelik tot geloof kom en jou ander helfte nie, kan jy dit nie as rede aanvoer waarom die huwelik getermineer moet word nie.

God is nie die rede waarom mense skei nie.

Die ongemak lê op ʼn ander vlak.

Iewers sê die huweliksformulier dat die duiwel nie genoeë neem met dit wat mooi en goed is nie.

Die huwelik is veronderstel om mooi en goed te wees. Hy, die bose, is slu en sal alles probeer om dit wat die Here bymekaar gebring het uitmekaar te skeur. Dit gaan gewoonlik met baie pyn en trane gepaard. Jou getuienis ly daaronder, die eer van God is in gedrang en lewens word uit mekaar geskeur.

Ek probeer nie oorvereenvoudig nie. Die lewe is gekompliseerd maar God is steeds op die troon, sy beloftes is waar en Hy is vol genade en waarheid. Wie Hom vertrou met die gebrokenheid van hul lewens kan gehelp word.

Die formulier maak melding van ʼn derde party. Dit kan iemand of iets wees.

Vriendskappe buite die huwelik bekommer my. Ons deel ʼn vriendekring met mekaar. Ons weet van mekaar se doen en late. Daar is nie geheime en agteraf gepraat waarvan die ander nie weet nie. Daar is nie verrassings op my selfoon wat wag om ontdek te word nie.

Vertroue is die basis van ʼn huweliksverhouding. Vertroue is broos, dit word maklik geskend.

Partytjies na werk, terwyl die ander party probeer om die huishouding bymekaar te hou, is moeilikheid soek. Om vriende se persoonlike, veral hul huweliksprobleme, te probeer oplos, is nie wys nie. Wees ʼn vriend of vriendin, nie ʼn berader nie. Hou ʼn gesonde afstand.

Jy bespreek nie jou slaapkamer met vriende nie. Kry ʼn mentor of onverbonde vertroueling. Beide van julle kan ʼn lewensbegeleier besoek wat professionele afstand kan handhaaf.

ʼn Derde party kan enigiets wees; jou werk, jou sport of ander buitemuurse verantwoordelikheid. Dit kan die kerk, bediening of gemeenskapswerk wees.

Ons plek is by die huis in die eerste plek. Daar gee ons ons beste.

Dis uitsonderlike koninkrykswerk en as daar tyd oor is, raak op ander plekke betrokke, verkieslik saam met mekaar.

Moenie in die strik van ʼn derde party trap nie. Dit is gevaarlik as jy getrou wil bly.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lourens ·

En die God-geseënde huwelik is tussen een MAN en een VROU. En ‘n “man” en “vrou” is soos oorspronklik geskape. Nie een of ander gevoel waarmee jy wakkerword nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.