ToekomsVenster: Die lewe is te kort

(Foto: Heather Barnes/Unsplash)

“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. – Deuteronomium 30:15

Covid-19 het ons op ’n ontstellende manier bewus kom maak van hoe kortstondig die lewe is. Meer as 52 900 mense in Suid-Afrika alleen het vanweë die virus gesterf.

Wetenskaplikes bly op hul voete omdat nuwe permutasies na vore tree wat verdere lewensverlies en lyding kan veroorsaak. Daar is ’n aggressiewe inentingsveldtog van stapel gestuur ten einde kudde immuniteit te bewerkstellig.

Dit is egter nie net Covid-19 wat ons bewus maak van die nietigheid van ons bestaan nie. Die hele wêreld is en was nog altyd onseker.

Ons kan vreesagtig en verward probeer lewe maar dit is ’n vermorsing van energie. Die geheim is om te midde van aardse realiteite tog nie die lewe by ons te laat verbygaan nie.

Johanna van Eeden skryf ’n rubriek wat verband hou met die kortstondigheid van die lewe. Die opskrif van die interessante bydrae is “Die lewe is te kort vir getjipte borde”.

Sy vertel dat sy koffie drink uit pragtige blombekers wat haar moeder wat reeds gesterf het onoopgemaak onder in die kas gebêre het. Ouma het seker ook soos baie van ons geredeneer; “eendag sal ek dit uithaal”. Dalk ’n spesiale geleentheid, ’n viering of gebeurtenis. Tog het die dood vir ouma ingehaal voordat sy die vreugde kon smaak.

Eweneens vertel Johanna hoe sy rose staanmaak in etlike van ouma se blompotte wat nooit gebruik is nie.

Daardie spesiale dinge wat vir “eendag” gebêre word.

Ek reken as ’n mens die versoening van Jesus reg verstaan ’n mens nie met “eendag” so sterk assosieer nie. “Vandag” is belangriker as enige iets anders.

Hoe eendag gaan uitspeel weet ons tog nie nou nie.

Waarom bêre ek en jy al die lekker, mooi, betekenisvolle dinge vir eendag?

Gooi die getjipte borde in ’n “Zorba the Greek” dans stukkend terwyl jy jou gunsteling-gereg saam met geliefdes geniet.

Haal uit die porselein. Die lewe is hier, nou, in dié oomblik en meer as dit het ek en jy nie noodwendig nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.