ToekomsVenster: Die nood is groot

(Foto: Javardh/Unsplash)

Gedurende hierdie week aandag gee aan die sogenaamde “Fourfold Franciscan blessing” geskryf deur ʼn Benediktynse suster Ruth Fox van Sacred Heart Monastery vir ʼn gradeplegtigheid in Dickinson State University in 1985. Die Afrikaanse verwerking is deur dr. Johann Voges. Ons gee elke dag aandag aan een van die bedes. Hier is vandag se stukkie:

Mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ʼn verandering in hierdie wêreld kan maak… sodat jy kan doen wat ander sê nie gedoen kan word nie.

“Wat kan ek tog aan die saak doen?” Het jy al gehoor dat mense so praat of dalk self skouerophalend dit self geuiter. Dink jy dit is ʼn goeie verskoning, ja, een wat jy eendag in die hemel sal kan aanbied en wat jou sal kan verontskuldig?

Jy sê ek laat jou ongemaklik voel en dat jy genoeg het om jou mee besig te hou. Nee, die bedoeling is nie om skuld uit te deel nie, trouens daar is mos altyd vier vingers wat terug wys, of hoe? Dit is dwaasheid om te glo dat jy inderdaad iets aan die toestand van die wêreld kan doen.

Ek het die bede die eerste keer by ʼn sinode sitting gehoor, dis sommer baie jare gelede en die woordjie “dwaasheid” het my getref.  Waarom dwaasheid?

Dit is inderdaad ʼn interessante woord en ek vermoed die frase verwys na so ʼn stukkie heilige voortvarendheid.

Ek sien in my gees die Here vra, “wie sal ek stuur” en my en jou hand skiet die lug in. Ons het nog nie eers die opdrag en nood helder en duidelik verneem nie maar roepingsbesef is so sterk en oorweldigend dat die gewilligheid om iets te doen bykans vanselfsprekend is: “Hier is ek Here, stuur my”.

“Tina Mina” is mos ʼn frase wat in Suid-Afrika gebruik word. “Ek sal gaan, doen, praat en optree. Vertrou my met die opdrag”.

God hou van sulke voortvarendheid. Hy gee alles wat nodig is om die taak uit te voer. Dit is mos nie ons vaardigheid en vermoë wat die deurbraak gee nie maar, syne.

Ons in ons menslike gestalte is nie in staat om enige iets betekenisvol by te dra nie.

Die teks leer ons mos: “die krag wat alle verstand te bowe gaan kom van Hom”.

“My bekwaamheid is van God wat my bekwaam gemaak het om ʼn bedienaar te wees van die nuwe verbond,” sê Paulus.

“Dit sal nooit gebeur nie, dit kan nie gebeur nie, jy mors jou tyd, die mense en situasie sal nooit verander nie”, so gaan die ontmoedigende opmerkings van baie mense rondom ons. Hulle is soos water op ʼn battery. Hulle oogmerk is om jou te ontmoedig en met vrees te vervul. Hulle is self nie gewillig nie en keer dat ander iets doen.

Die jaar 2021 lê voor. Die nood is groot. Wil jy nie begin droom oor iets wat ander mense sê nooit kan gebeur nie? God sal jou dwaasheid seën.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie dat ek groot mag dink, mag bid, mag hoop, want U is Groot, die Skepper van alles, die Waarmaker van U Woord

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.