ToekomsVenster: Ek het al vergeet hoe dit voel om vry te wees

(Foto: Frank Mckenna/Unsplash)

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” – Galasiërs 5:1

Paulus verkwalik die gemeentes van Galasië dat hulle hul duur gekoopte vryheid vir die slawerny van menslike voorskrifte verruil het.

 “Daar was ʼn tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, fees geleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.” – Galasiërs 4:8-11

Die Bybel sê dat as die Seun julle vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

Die probleem is dat ons die een vorm van slawerny vir ʼn ander verruil. Die tweede lyk baie mooi en vroom en is in ʼn godsdienstige mantel toegedraai maar het dieselfde agenda, naamlik om jou in slawerny te hou. Hierdie vorm van godsdienstigheid gaan steeds van die standpunt van werk heiligheid af uit. Ek moet die ewige lewe verdien, God beïndruk en tevrede stel en nougeset die reëls nakom.

Daar was ʼn tyd dat jy die vryheid beleef het. Dit was aangenaam en vervullend om die Here te dien. Toe het jy egter jou ore uitgeleen vir die verkeerde geselskap. Jou bekeringservaring is in twyfel getrek.

“Hoe kan jy gered wees as jy nie dit en dat gedoen het nie. Hoe kan jy jouself ʼn Christen noem as jy nie sus en so praat en bid nie. Is jou verstaan van die Bybel korrek as jy God nie by hierdie en daardie naam benoem nie. Jy kan nie ʼn kind van die Here wees as jy hieraan en daaraan deel het nie. Jy moet jou kerk los, die mense daar verstaan die Woord verkeerd. Ons geestelike leier het ʼn direkte openbaring van Bo gehad. Dinge gebeur by ons.”

Jou lus om God te dien is aan die kwyn. Jy is moeg en oorlaai. Hoe harder jy probeer, hoe minder kry jy dit reg. Jy is op die punt om die pad van die geloof te verlaat agter die dominees aan wat sê dat hulle nou vrygekom het. Jy wil klaarmaak met God, die Woord en die kerk. Jy het genoeg gehad.

Weet jy, al die reëls in God se Woord word deur een begrip opgesom, liefde. Waar van liefde sprake is, is daar nie dwang nie. Liefde is eenvoudig, ongekompliseerd, maklik verstaanbaar, omhelsbaar en beleefbaar.

As waarmee jy ook al besig is die begrip liefde komplementeer, ʼn uitdrukking daarvan is, moet dit in orde wees. Dit kan nie anders nie.

Uiteraard nie selfliefde nie, maar liefde vir God en liefde vir die naaste in die eerste plek.

Ons verhouding met die Here word deur ruimtelikheid gekenmerk. As jy smoor in die teenwoordigheid van die Koning, is daar iets verkeerd. Dit is juis die plek waar jy vry kan asem haal.

Die bose werk baie subtiel en wil God se kinders weer onder ʼn slawejuk indwing. Slawe het bittermin, indien enige, werksbevrediging. Die dwang is te oorweldigend. Die moeisaamheid van dit alles beroof jou van alle lewensvreugde. Dit is nie God se bedoeling nie.

Kom vry. Werp die juk van voorskriftelikheid af. Beleef God se genade.

“Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ʼn verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.” – Galasiërs 5:13 (AFR83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.