ToekomsVenster: Ek is die weg

(Foto: Luke Stackpoole/Unsplash.)

Joh. 14:6 – Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

As Moses vir die Here vra wie hom stuur en wat hy as antwoord op daardie vraag moet aanbied, antwoord die Here met “Ek is wat Ek is”. Daarby is niks uitgesluit nie en alles ingesluit. Dit sluit aan by die gedagtes wat ons reeds gedurende hierdie week bespreek het. Hy is die allesinsluitende en omvattende rede en beginsel. Daar is niks buite Hom nie, Hy sluit alles in.

Wanneer die woorde “Ek is” uitgespreek word bewe die duisternis. Dit is ʼn roemryke aankondiging van die almag van God.

Demone vlug, die bose kies die hasepad, sy teenstanders word neer gefel en elke mag en gesag word onderwerp.

As Nikodemus, ʼn wetsgeleerde, ʼn man van aansien, ʼn geestelike, gedurende die nag by Jesus aanmeld is hy soekend. Iets skort. Hy ken die Woord, gaan deur die rituele, geniet die aansien van mense, is volgens menslike maatstawwe “gegrond”, maar iets hier binne skree dit uit. “Wat moet ek doen?” is die vraag waarmee hy na Jesus kom.

Die vraag het hom al dikwels aan ons almal opgedring, die “wat moet ek doen?” vraag. Jakobus reken dat Hy die Bron van alle wysheid is met wie ons gerus kan konsulteer. Hy sal die waarheid ontsluit. Vir Jeremia nooi Hy uit om te vra en onuitspreeklike en aangrypende nuwe dinge te hoor en te leer.

Versand is nie ʼn opsie vir God se kinders nie. Daar is altyd ʼn volgende moment.

“Wat moet ek doen?” gerig aan die regte adres, God die Bron van wysheid, verras en oorweldig met krag.

Die Vader is die inhoud van die vraag. Hy is die antwoord waarna elke mens soek. Sonder Hom het jy nog nie aangekom en tuisgekom nie. Jy bly soekend totdat jy jou rus in Hom gevind het. Die Vader is die adres. Die pad daarheen is die Seun, geloof in sy volmaakte versoening.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.