ToekomsVenster: ‘Ek lewe’

(Foto: Jorge Vasconez/Unsplash)

Musiek is na aan my hart en ek is sonder ophou besig om te sing. Woorde, frases en gebeure herinner my aan liedere wat aan my bekend is en dit is nie lank nie of my gemoed sing.

Jare gelede toe geestelike musiek ʼn nuutjie was in die kerk het ons baie liedere wat bekend was van nuwe woorde voorsien. Oorspronklike geestelike musiek was skaars en met ʼn bietjie verbeelding kon jy van bruikbare wysies heerlik saamsing-liedere maak.

Vandag is daar ʼn stroom van nuwe, vars en geïnspireerde geestelike musiek, te veel om van te kies. Dit is ʼn wonderlike tyd om in te lewe. Afrikaanse geestelike musiek met name het volwasse geword en kan sy plek trots op enige verhoog inneem.

Annelie van Rooyen, ʼn ikoon in die musiekbedryf, het ʼn lied gesing met die naam, “Ek lewe”. Nie te veel timmer nie het ʼn lekker saamsing lied verseker (met apologie aan Annelie!).

“Ek lewe

Gemaak om na Christus te strewe

Om Hom te dien met my lewe

Ek lewe”.

Die lewe verwys uiteraard nie net na die verwagting dat ons eendag vir altyd by Jesus in die hemel sal lewe nie maar, na die lewe hier en nou.

Die lewe hier en nou is nie ʼn spirituele viering van oomblik tot oomblik nie, daar is tog meer om te doen as om “kerk” te hou.

Iewers klim jy van die wolkie af en doen waarvoor die Here jou geroep het. Jy doen dit lewendig, met entoesiasme, waarvan die kernwoord eintlik beteken, “in Hom, in God” is.

Jy LEWE in jou verhoudinge, na binne en na buite, naby en ver. Jy LEWE in die keuses wat jy maak. Jy LEWE deur die hande, voete, oë en ore van Jesus te wees. Jy LEWE deur jou geliefde vas te hou en te koester, jou kinders en kleinkinders stukkend te soen en te waardeer. Jy LEWE deur die mooi rondom jou raak te sien, die blou lug, die mooi plante, die heuwels, berge, stroompies, diere en voëls.

Wanneer laas het jy ʼn gevoel van LEWE in jou rondgedra?

Haal diep asem en blaas jou asem stadig uit. Nee, stadiger, jy moet amper benoud raak!

Dan, soos iemand wat hartmasering na ʼn hartstilstand ontvang, sluk jy jou stukkie lewensnoodsaaklike suurstof gulsig in, jou oë wawyd oop en jou mond met ʼn lofsang gevul.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.