ToekomsVenster: Ek sal rus gee

hande-kerse-kerslig-gebed

(Foto: Myriams-Fotos/Pixabay)

“Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke, soos ʼn duif gehad het, sou ek wegvlieg en ʼn woonplek soek.” – Psalms 55:7 (AFR83)

Ek het al by verskeie geleenthede vertel van ons kleinkinders en ek vra nie daarvoor verskoning nie. Mense wat kleinkinders het, kan getuig van die wonderlike vreugde wat hulle tot ʼn mens se lewe toevoeg. Dis ʼn kosbare seisoen wat jy vir geen geld wil misloop nie.

My twee dogters is tans saam met hulle manne op een van daardie luukse bote. Tussen die twee gesinne is daar vier kleinkinders. Die oudste is vier jaar oud en die jongste is maar nog net ʼn baba.

Dit is uitdagend om na die vier om te sien terwyl hulle ouers die bootreis geniet. Uiteraard gun ons dit vir hulle en is ons bevoorreg dat ons na die kleinkinders kan kyk.

Voor slapenstyd word kinderstories aangesit. Peppa Pig is een van die gewilde stories. Die van julle wat klein kindertjies het sal dié vermaaklike program ken.

Voordat ek myself kan keer, is ek volledig betrokke by die verhaal wat afspeel. Die naïewe onskuld van die program en die karakters wat daarin optree, spreek my aan. As ek eerlik moet wees, geniet ek die storie net soveel soos die kinders.

Ek dink daaroor na en wonder waarom dit is.

In vergelyking met die komplekse intriges van die volwasse lewe, ook op televisie, is hierdie seker nie veel om na te kyk nie. Dis koddige figuurtjies met giggellaggies wat kindertjies vermaak. Dit is fantasie, dis speel-speel, dis nie regtig nie, dis animasie, maar ek geniet elke oomblik daarvan.

As ek later daaroor nadink besef ek dat ek ʼn intense begeerte het aan die onskuld wat in die storie uitspeel. Ek verlang na eenvoud, stilte, ʼn lewe wat nie gekompliseerd is nie. Ek wil net vir ʼn rukkie ontslae raak van verantwoordelikheid, vergeet van al die dinge wat elke dag deel van ons menswees vorm.

Ek wil nie meer hoor van korrupsie en geweld, misdaad en bedrog nie. Ek wil nie nog een berig lees van vroue en kinders wat wreedaardig aangerand en selfs gedood is nie. Ek wil nie meer hoor van die Guptas of die Facebook-verkragter nie.

Ek verlang na eenvoud, al is dit net vir ʼn oomblik.

Voel jy ook so? Wil jy ook somtyds net wegkom?

Die Psalmdigter wens dat hy vlerke het waarmee hy kan wegvlieg die woestyn in waar niks en niemand sy rus kan steur nie.

Dit is wensdenkery om te dink dat jy die wêreld kan ontvlug. Ons is ten ene male hier en het ʼn verantwoordelikheid om ons roeping uit te leef.

Dit vra egter vir tye van afskakel, ontvlugting as jy wil, al moet jy weer terugkeer na die werklikheid. Daar is sulke stilhou-oomblikke in die lewe van ʼn mens. God beskik dit. Dis die tye wanneer ons aan die voete van Jesus sit, wanneer ons tot rus kom, wanneer ons diep asemhaal en ontspan.

Peppa Pig is eintlik vir kinders. Geestelik volwasse mense vind hulle rus by die Here.

Daar word die batterye herlaai en nuwe moed geskep waarmee die lewe tegemoet gegaan kan word.

Immers, Jesus het gesê, kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en ek sal julle rus gee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Ja nee, ek het verskeie “screensavers” met woestyn tonele. Op ene staan een enkele verlate boom waarnatoe ek dikwels tydens my verbeeldingsvlugte van werklikheids ontkenning heen vlug

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.