ToekomsVenster: ‘Ek wil jou raad gee, My oog oor jou hou’

(Foto: eberhard grossgasteiger/Pexels)

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. Moenie onverstandig wees nie, soos ʼn perd of ʼn muil wat met ʼn stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.” – Psalms 32:8-9 (AFR83)

Hardkoppigheid bring ʼn mens nêrens nie. Daar is mense vir wie jy niks kan sê nie, hulle weet altyd beter en het altyd ʼn antwoord gereed. So ʼn lewenshouding kom nie ver by die Here nie. Hy wil dat ons ons afhanklikheid van Hom sal besef en dat ons vanuit daardie afhanklikheid sal leef. Feit van die saak is dat ons sonder Hom niks kan doen nie. Die volgende asemteug is moontlik, net omdat Hy dit gee.

My professor op universiteit, die baie bekende Johan Heyns, het somtyds sy hand na die studente uitgehou. Dan het hy gesê: “Kyk menere, Hy hou die hele wêreld in sy Hand”. ʼn Fenomenale waarheid dat die almagtige God hierdie ontsagwekkende skepping en alles wat daarmee saamgaan, in sy handpalm hou. Alles is veilig en geborge by Hom.

Ek sou die Here nie kwalik neem as hy somtyds in die versoeking is om sy hand toe te maak nie. Die opstandigheid en rebellie van mense teen sy gesag skree ten hemele.

Selfsug en arrogansie is die kenmerkende optrede van soveel mense. Tog, te midde van dit alles, is Hy vir almal goed. Hy maak die lewe moontlik, selfs vir hulle wat sy bestaan ontken.

Dit is wonderlik dat God so betrokke is en wil wees by ʼn mens. Dit is vertroostend dat Hy sy oog oor ʼn mens wil hou.

Ek het dit nodig in my lewe, en ek is seker jy ook.

Bid saam:

Here, hou U oog oor my, leer en onderrig my, wys my die pad wat ek moet stap. Vergewe tog as ek somtyds onverstandig en hardkoppig is. Dankie dat U genade groot is. Ek verheerlik U in Jesus se naam. Amen.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.