ToekomsVenster: Ek wil volrond wees

(Foto: Guillaume de Germain/Unsplash)

“Dromer, siener, profeet, grapgat, lagger, huiler, glo-er, kitaarspeler, boer, broer, kind, hardloop in die koppies, liefhebber van lewe”.

Ek krap op Twitter, wat nou as X bekend staan, op soek na ʼn sekere persoon, om die waarheid te sê ʼn dominee in Bloemfontein. Hy beskryf homself soos bo aangedui en ek voel hoe die energie, lewenslus en mooi van die lewe in myself na vore tree. Ek bepeins elkeen van hierdie selfbenoeminge en wonder waarmee ek kan identifiseer.

Die beskrywing klink vir my na volrond menswees, die volheid lewe waarvan Jesus gepraat het.

Ons mag nie arm leef nie, dit terwyl die Koning die rykdom van die hemel vir ons ontsluit het nie. Wat bo staan is eintlik verbondsinhoud. Dis die getuienis van iemand wat uit die genade leef, meer as dit, van genade lewe. Ek wil ook so leef, ek wil meer so leef.

Ek wonder as jy so deur die lysie van byvoeglike naamwoorde lees, waar jou gedagtes vassteek? Ek vermoed dat jy kan redeneer dat die lewe kompleks is en dat die verwysing na grapmaker wees, nie gepas is nie.

Jy mag sê dat drome ʼn idealistiese vermorsing van tyd is en dat die teenswoordige vir nugtere praktyk gedrewe lewe vra.

Jy mag redeneer dat siener amper sektaries klink, ook profeet, maar die vraag is, wat sien jy, ek, ons? “Doom en gloom”. Sleg, trauma, sukkel om te oorleef, elke dag moeisaam deurbring,  of ervaar ons die lewe as ʼn groot stuk lekkerte om by verlede week se lekker aan te sluit.

Ek wil alles wees wat die dominee van homself sê en nog meer.

Ek wil volrond mens wees, feesvierend deur die lewe gaan, die bergtoppe bewandel, van God se blomme in die vallei ʼn ruiker maak en vir ʼn stukkende mens aangee.

En jy?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.