ToekomsVenster: God is ook daar

godsdiens-bybel-gebed-unsplash-pexels

(Foto: Unsplash/Pexels)

Ons gesels verder oor die wonderlike sekerheid en vastigheid wat geloof in Jesus jou bied, veral met betrekking tot die realiteit van die dood.

Vir tyd en ewigheid is ons veilig by Hom, niks en niemand kan ons uit sy hand ruk nie. (Joh. 10:27-30)

Die bekende Ps. 23, ʼn Psalm wat deur die eeue soveel troos aan gelowiges gebied het, wil dit ook vandag vir jou doen. Wanneer ons oor die dood praat kom vers 4 sommer dadelik by ʼn mens op. “Al gaan ek ook al deur ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is by my”.

Die nuwer vertaling klink so: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Drie belangrike troos momente in hierdie vers:

1) Die dood is nie die finale bestemming vir ons nie. Weliswaar deur die doodsvallei maar let op die woord – deur die doodsvallei. Die vallei het ʼn begin en eindpunt. Iewers gaan jy dit binne en iewers stap jy uit. Dit mag wees dat die dood vreemd en bedreigend voorkom maar dit is net ʼn vallei ervaring. Ons bestemming is die hemelstad.

2) Die skadu is nie die werklikheid nie. Doodskaduwee is die woord, vir ʼn oomblik voel dit asof die dood ʼn skaduwee oor ons werp, maar die skaduwee verdwyn eweneens. Die skaduwee is nie die werklikheid nie. Ek het so ʼn mooi storie gehoor en vertel dit graag. Die vrou is oorlede en haar man en kinders is vanaf die begraafplaas terug op weg na hul huis. Die atmosfeer is somber en hartseer, uiteraard en te verstane. Dan kom ʼn vragmotor verby werp ʼn skaduwee oor die voertuig. Daarop vra die pa van die gesin – wil ons eerder deur die skaduwee as deur die vragmotor getref word? “Die skaduwee” kom dit spontaan van die kinders. Dan antwoord die pa: “Jesus is deur die vragmotor getref sodat net die skaduwee ons kan tref”.

3) Die fyn woordspeling “alleen” maar nie “verlaat” nie. Ons betree die doodsvallei weliswaar alleen, maar God is ook daar.

Die mooi vers eindig met die woorde: Want U is by my. In U hande is ek veilig.

Wat ʼn merkwaardige troos Psalm.

My gebed is dat dit vandag en elke dag vir jou troos en vrede sal bring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U vir ons die vrees oor die dood oorwin het..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.