ToekomsVenster: God maak ’n pad deur die see

golwe-see-branders-strand

(Foto: @januprasad/Unsplash)

Ons lees en dink aan wonderlike beloftes in die woord van die Here na aanleiding van Jesaja 43.

Vandag wil ek jou aandag vestig op vers 16.

“So sê die Here wat ʼn pad gemaak het deur die see, ʼn deurgang deur die magtige waters. Hy wat strydwaens en perde laat optrek het, ʼn leer op volle sterkte na sy ondergang toe. Hulle kon nie weer opstaan nie, dit was klaar met hulle, hulle is soos ʼn lamppit uitgedoof.” – Jesaja 43:16

Kom ons oorweeg ook die historiese perspektief in ons verhouding met die Here, dit wat God gister en eergister gedoen het en wat vir ons die stukrag, die geloofsperspektief en die vertroue gee dat Hy ook vandag en môre heilsaam kan werk in ons kontekste.

In ʼn sekere sin moet ʼn mens dus eers terug kyk voordat jy kan vorentoe kyk.

Vorentoe kyk is somtyds bedreigend, onseker, onheilspellend, selfs onwaarskynlik. Dink maar aan die vraag wat baie mense vra of daar ʼn toekoms is vir ons en ons kinders in Suid-Afrika.

Ons kyk vorentoe en al wat ons sien is die vrug van dit wat tans besig is om uit te speel. Korrupsie, misdaad en geweld som ons konteks mooi op.

Baie jongmense getuig daarvan dat daar geen toekoms is nie. Hierdie pessimistiese ingesteldheid word dikwels verder aangevuur deur die woorde van ongeloof wat na hulle toe kom, wat deur gesagsfigure, ouers, onderwysers, predikante en meningsvormers uitgespreek word.

Dit mag op die oog af waar wees, negatiewe omstandighede kan empiries bewysbaar wees, na alles, Suid-Afrika en die gebrek aan dienslewering is ʼn aanskouingsles in die onvermoë van die huidige regering om na die belange van Suid-Afrikaners om te sien.

Al wat die meeste mense sien, en ʼn mens kan hulle nie daarvoor verkwalik nie, is die desperaatheid van ons eie situasie.

Daar is egter ʼn ander dimensie, die Goddelike dimensie, die lewende Here wat steeds skeppend en herskeppend besig is in hierdie wêreld.

Wat ons waarneem is nie die volle prentjie nie. Dis net ʼn faset van die werklikheid.

Daar is ʼn groter werklikheid, naamlik dié van God wat steeds op die troon is.

Derhalwe die belang van die vers wat ons vandag met mekaar saam lees.

Die Here sê: “Ek maak ʼn pad deur die see”.

See is dikwels ʼn metafoor vir die magte van die duisternis, die onsekerheid en ontsteltenisse waarmee mense gekonfronteer word. Ja, sê die Here, Ek maak ʼn deurgang deur die magtige waters, Ek reken af met die vyand, Ek doof hul lig soos die van ʼn lamppit uit.

God werk in die geskiedenis; die van die verbondsvolk, die van sy nuwe Testamentiese kerk en die van elke individuele gelowige.

Die God wat gister onderneem het, doen dit ook vandag en in die toekoms.

Skep moed, die laaste bladsy is nog nie geskryf nie!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.