ToekomsVenster: Het Jesus al jou voete gewas?

Jesus-wat-voete-was

(Argieffoto)

Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. – Joh.13:4-5

Gedurende hierdie week dink ons na oor die gebeure rondom die kruisiging van Jesus. Een van die aangrypendste gebeure in die Nuwe Testament is die bekende geleentheid waar Jesus sy dissipels se voete gewas het.

Dit is nie iets wat in ons tyd gereeld gebeur nie. Dit is ietwat onkonvensioneel om jou skoene en kouse voor iemand anders uit te trek en toe te laat dat hulle jou voete was.

Persoonlik ervaar ek dat my “spasie” binne gedring word en ek is derhalwe ongemaklik. Die kere wat ek deel was van so ʼn seremonie was moeilik en per geleentheid is die gedagte daaragter misbruik.

Dit beteken egter nie dat die seremonie nie wel plek kan hê in die geloofslewe van Christene nie.

Die nuwe Testament se konteks is uiteraard belangrik.

Die voete van gaste was vanweë die gebrek aan begaanbare paaie en die feit dat mense aangewese was op loop as hulle iewers wou kom, vuil en stowwerig. Dit was ʼn goeie en bedagsame gebruik van gasvryheid om toe te sien dat jou gaste gemaklik aansit, eerder aanlê.

As mense se voete onversorg was kon dit die ervaring van ander gaste negatief beïnvloed.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus hierdie taak op Homself neem. Niemand anders tree na vore om dit vir die ander en vir Jesus te doen nie.

Die geringste onder die slawe was boonop vir hierdie taak geoormerk. Niemand rondom daardie geskiedkundige tafel beantwoord aan daardie beskrywing nie, altans dit lyk nie so nie, totdat Jesus die handdoek om sy lyf bind en knielend by elkeen van sy dissipels stilhou om hulle voete te versorg.

Die atmosfeer moes elektries gewees het en ʼn  gewyde stilte moes geheers het totdat Jesus by Petrus kom. Die oomblik is net te groot vir hom en trots weerhou hom daarvan om hierdie liefdesdaad van Jesus te aanvaar. Die res van die verhaal is bekend.

Die idee van voete was, is ook metafoor vir wat Jesus later aan die kruis en bevestig deur die opstanding sou doen.

Het Jesus al jou voete gewas?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.