ToekomsVenster: Hoe lyk jou geestelike lewe na die pandemie?

(Foto: Ante Hamersmit/Unsplash)

Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.- Deuteronomium 6:7 (AFR83)

Die pandemie het ons lewens dramaties beïnvloed. Met die ewigheid as daaglikse meeloper moes jy besluit wat belangrik is en wat is nie. Allerlei voornemens het na vore getree. Meer tyd vir persoonlike toewyding, meer tyd vir my gesin, meer ontspanning, minder bekommernis en onnodige stres. Belangrike sake is geprioritiseer en ander het op die agtergrond geraak.

Vir ʼn beduidende tyd kon gelowiges nie eredienste bywoon nie. Aanlyn kerk het gevestig geraak en baie gelowiges het ten spyte van die normalisering wat ingetree het, steeds die gewoonte behou om eerder aanlyn eredienste “by te woon” as om die rit na die plaaslike gemeente te onderneem.

Hierdie paar gedagtes het veral met kinders en hul geestelike gesondheid te make.

In die verlede kon ʼn mens skole vertrou om basiese geloofswaarhede aan kinders oor te dra. Dit het verander en sal in die toekoms nog meer verander.

Sommige skole maak hoegenaamd geen voorsiening vir die spirituele ontwikkeling van leerders nie. In ander gevalle word verskillende godsdienstige strome ewekansig gehuisves en loop ʼn  jong sensitiewe gees die gevaar om die fundamentele van die Christelike geloof totaal mis te loop. In ander gevalle word ʼn soort van ʼn universalistiese benadering tot geestelike sake gevolg:  ʼn Hoër mag, soos God, se invloed en krag word erken maar die inhoud is gevaarlik.

Ouers sal onthou dat kategese of Sondagskool in ons tyd ʼn baie belangrike rol gespeel. Toegegee, dit was nie altyd opwindend nie en het dikwels soos skool gevoel. Toetse en eksamens is afgeneem en daar was diplomas en seëls wat aan die einde van jaar toegeken is. Gereelde bywoning van die geleenthede was onmisbaar.

Gemeentes volg dikwels ʼn gemakliker benadering tot kategese en maak seker dat die kinders die ervaring positief beleef.

Terug by geloofsgewoontes na die Covid-19-pandemie. As ouers nie meer die erediens besoek nie, gaan die kinders heel waarskynlik ook nie “kerk toe” nie. Kinders glo dat Jesus in hul hartjies woon, kan enkele Bybelverhale oorvertel maar die substansie van die geloof gaan verlore. Kernwaarhede bly agterweë en kinders kan hul geloof nie verantwoord nie.

Geloof bestaan uit twee elemente; kennis en vertroue. Met die naïewe vertroue skort daar gewoonlik nie en ouers maak seker dat dit wel by hul kinders teenwoordig is.

Dit is die inhoudelike, die element van kennis wat kan verlore gaan.

Natuurlik kan ouers sê dat hulle die geestelike vorming van hul kinders vir hul eie rekening neem. Dit is inderdaad eerste prys maar in ons gejaagde lewe dalk ietwat idealisties.

Wanneer swaar tye kom, is dit wat jy van God weet wat jou vertroue voed. Naïewe vertroue alleen kan teleurstel, soveel so dat die kind se hele geestelike basis wegval.

My bedoeling is nie om mense te laat slegvoel of iets nie. Jy het die reg om te besluit. Die vraag is net of dit eweseer van toepassing is op die geestelike vorming van die kind vir wie jy so lief is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.