ToekomsVenster: Hoor die leeu brul!

(Foto: Edgar Moran/Unsplash)

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” – 1 Petrus 5:8 (AFR83)

Wanneer ʼn mens die bekende Nasionale Krugerwildtuin besoek is jy fyn daarop ingestel om die “Groot Vyf” te sien. Die feit dat jy olifante, buffels, renosters en leeus gesien het, maak die besoek die moeite werd. Onder die Groot Vyf is dit egter veral die leeu wat aandag trek.

Om ʼn trop leeus rustig te sien rus in die middagson, of om te sien hoe die leeus speels met mekaar omgaan, is merkwaardig. Om egter te sien hoe ʼn leeu of trop leeus hulle prooi jaag, jag en plattrek, is bestem vir die videokamera. Die opwinding, energie en passie wat in daardie oomblikke beleef word kan moeilik onder woorde gebring word. Dan die grillerige oop- en uitmekaar skeur van die prooi wat leweloos verrinneweer word.

Ek is seker dat die meeste mense met hierdie tonele bekend is. Leeus wat genadeloos op ʼn prooi toesak is werklik iets om te aanskou.

Die prooi se bewegings word bestudeer, daar word gewag vir ʼn strategiese oomblik en net dan word daar op die niksvermoedende prooi toegesak.

Somtyds is daar tekens dat die prooi ʼn sensitiwiteit openbaar vir die naderende gevaar. Baie kies egter om die gevaartekens te ignoreer en nog ʼn rukkie langer tussen die welige groen gras te kuier.

Dit is daardie oomblikkie wat die verskil maak tussen lewe en dood.

Wat maak ons met daardie strategiese oomblikke in ons lewens?

Dat die oorgrote meerderheid mense uiteindelik die leeu (die bose) se middagmaal word, is bekend.

Blaai deur die koerant, luister na die aandnuus op TV, hoor wat mense sê en praat.

Kyk op die hoeke van die strate en die sypaadjies van ons menswees.

Besoek die klinieke en rehabilitasiesentrums en sien hoe mense verrinneweer en verskeur gelaat is.

Die Bybel waarsku ons teen die einste leeu, natuurlik ʼn metafoor vir die bose. Wat in die wildtuin gebeur is bestem vir die kamera, wat in die geestelike en fisiese ryk gebeur is bestem vir die hospitaal, die pastorale spreekkamer, die rehabilitasiesentrum, die straat, en soms, die begraafplaas.

Die goeie nuus is dat die Gees van die lewende God ʼn mens van hierdie doodsbestaan kan verlos. Jy word egter ʼn medewerker daarin.

Hy staan by die deur en klop, leer Openbaring ons, maar jý maak die deur vir Hom oop. (Lees gerus Openbaring 3:20)

Hy sal die deur nie afskop of opdring nie.

Hy sal dringend pleit, waarsku en uitnooi, maar die keuse − ja, die keuse − berus by jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stephanus ·

Pleit – Néé
God beveel elke mens om hulle te bekeer.
Dit is ‘n opdrag, ‘n bevel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.