ToekomsVenster: Hy is lankmoedig

Foto: Jeremy Bishop/Unsplash.com

Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. – Eksodus 34:6

Hoe dikwels gebruik ons nie die woord my geduld is nou op nie. Situasies het ons tot die uiterste beproef en nou kan ons nie meer nie. Wanneer ʼn mens se geduld opraak gryp jy na strooihalms. Jy kom met menslike pogings en betaal ʼn duur prys daarvoor. Dit is meermale rampspoedig en nadelig. God se besondere eienskap van lankmoedigheid word merkwaardig in elkeen van ons se lewens gedemonstreer.

Hy het genoeg rede om sy belegging in genade, liefde en geduld aan ons te onttrek. Die dividend wat grondige bekering moes lewer het nie materialiseer nie. Hy kan by wyse van spreke ʼn veel beter opbrengs by ander vind. Tog doen Hy dit nie. Die werk wat Hy ons ons begin het maak Hy klaar. Hy bly met ons besig te midde van en ten spyte van.

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. – Filippense 1:6

Hy is lankmoedig. Baie lankmoedig. God “boer” met hoop. Hy glo die beste van ons terwyl Hy weet van watter stoffasie ons gemaak is.

Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is. – Johannes 2:25

Hy gooi nie handdoek in nie, Hy draai nie sy rug op ons nie. Hy bly verbind aan ons omdat Hy met ons ʼn verbond gesluit het.

In ons menslike voortvarendheid en kortsigtigheid wil ons somtyds met Hom opgee, beskuldig ons Hom van onbetroubaarheid en ander dinge. Selfs dit verdra Hy van ons. Hy het vertroue in sy Woord. Die Woord het sy intrek in ons geneem. Sy Woord keer nie onverrigter sake terug nie. Dit sal doen waarvoor dit gestuur is.

So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. – Jesaja 55:11

Daarom is God, terwille van Homself en ons lankmoedig. Dank Hom daarvoor.

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. – Psalms 103:8

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OWO ·

Die woord lankmoedig is ‘n ouer woord wat vervang is met geduld.Lankmoedigheid het ook ‘n negatiewe konnotasie wat dui op lammerig of papperig.Geduld word ingesluit onder die Vrug van die Gees en verwys daarna dat ‘ n mens aanhou om rustig en vriendelik te wees al moet jy wag,of al word jy die soveelste keer met die probleem van ‘n ander opgesaal.Geduld het aktiwiteit en vra baie emosionele krag.Die engels “slow to anger” is hier van toepassing.

Countryboy ·

Dankie Here Jesus vir U geduld met my. Soveel keer het ek al die bad afgedraai en my eie sake probeer reel sonder om met U eers te praat. Maar toe besef ek. Jesus bid to God in ALLES wat Hy doen..as Jesus dan bid voor ALLES, wat maak my as mens dan beter om dit nie te doen nie..wat wil rk regkry..
Dankie Here Jesus vir U lankmoedigheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.