ToekomsVenster: Hy sorg vir jou

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. – Ps. 3:5-6

Wat is die slaap ’n wondersoete ding!

Sag op haar bloue oë daal die vaak

soos maneskyn diep waterkuile raak

om daar te droom in silwer skemering.

 

Vir laas beef oor haar lippe ’n fluistering:

“Nag, Pappie.” Ek merk hoe langsaam hy genaak,

wat drome soet tot werklikhede maak:

in vaderarms rus my lieweling.

Sluit so my oë, God, wanneer vir my

u Engel wenk ter laaste, lange rus

en ek van wilde woeling hier moet skei;

dat my dan stille drome huis toe sus

en sterke Hand deur duisternisse lei.

Sluit so my oë, God, as ek gaan rus

– DF Malherbe (Slaap)

Een van die uitwasse van kommer, vrees en angs is slapelose nagte. Die woord insomnia het al bekend geraak. Daar kan uiteraard mediese redes wees vir die toestand maar dat daar emosionele en geestelike oorsake kan wees, is eweneens so.

Sonder slaap, veral as dit chronies word, kan ʼn mens nie funksioneer nie. Dit is ʼn bekend feit dat ʼn mens ten minste ses tot agt ure slaap elke nag nodig het.

Toegegee, daar kom steurings in ons slaappatrone maar nie te lank nie en ons keer terug na hierdie gesonde noodsaaklikheid. Om egter nag vir nag wakker te lê omdat die slaap jou ontwyk en bekommernis jou gedagtes in beslag neem, is nie wat God vir ons in gedagte het nie.

Luister na die Psalmdigter. Ja, Dawid se lewe was alles behalwe rooskleurig. Hy is met baie hartseer en verwerping gekonfronteer. Hy moes dikwels vlug vir sy lewe. Tog, te midde van dit alles, het hy die God van Ps. 23 in sy hart gedra.

“Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.”

Anker jouself weer in die genade, liefde en sorg van God. Hy sorg vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.