ToekomsVenster: In alle omstandighede dankbaar

(Foto: Ben White/Unsplash)

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” – 1 Tessalonisense 5:18 (AFR83)

Die gebeure by Jagersfontein waar ʼn slikdam gebreek en mense se huise en wooneenhede verwoes het, vervul ʼn mens met diep medelye vir die gemeenskap. Daar was ook ʼn verlies aan lewens en, met die samestelling van hierdie oordenking, was daar mense wat steeds nie opgespoor is nie.

Ek lees die aangrypende belewenis van ʼn vrou wat saam met iemand anders 12 km ver meegesleur is deur die aaklige massas van slik. Iewers het sy daarin geslaag om uit die stroom te ontsnap en hulp te soek. Haar broer, wat saam met haar in die huis was toe die slikstroom die voordeur genadeloos oopdwing, was ten tye van dié berig nog soek gewees.

Ek kla so maklik oor goed wat nie in plek is in my lewe nie. Dit is klein dingetjies wat irriteer en my teen die muur uitdryf. Ek raak kwaad dat kleinighede my lewe en gang ontwrig en onplesierig maak.

Tog sal ek binnekort in my motor klim, na die naaste winkelsentrum toe ry en by die supermark gaan koop wat ek nodig het. Ek sal met my kredietkaart betaal en terug by die huis my kruideniersware in my koskas pak. Wat in die yskas hoort sal ek daar bêre, behalwe wat vrieskas toe moet gaan.

Intussen sal ek die ketel aanskakel en ʼn “plunger” uithaal sodat ek ʼn heerlike koppie koffie kan geniet. Die “bederfie” sal ek in die mikrogolf warm maak.

Ja, ons kla dikwels met die wit brood onder die arm.

Daar is mense, Jagersfontein is daarvan ʼn voorbeeld, wat bakhand staan vir ʼn botteltjie water en ʼn kospakkie wat deur ʼn organisasie soos Gift of the Givers afgelewer word.

Dit is maar net een voorbeeld van swaarkry in ons land, Suid-Afrika.

Ons harte gaan uit na alle mense wat swaarkry.

Kom ons maak vandag ʼn verskil in hulle lewens.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.