ToekomsVenster: Is jy ook ʼn klakous?

Foto: Leon Biss/Unsplash

Ek haal uit Wikipedia aan: “Der liebe Augustin”, oor wie die Duitse liedjie gaan, was die bynaam van Marx of Markus Augustin, ’n digter, sanger en doedelsak speler. Die woorde word aan hom toegeskryf. Hy was blykbaar gewild, want veral in 1679 tydens die pes in Wene het hy die stadsbewoners opgevrolik met sy liedjies. Hy het met sy doedelsak van een kuierplek na ’n ander getrek om musiek te maak en maar min verdien – hy het blykbaar ook lekker diep in die bottel gekyk.

Volgens oorlewering was die 36-jarige Augustin een aand weer dronk en het hy in die straat geslaap. Opruimers wat mense wat in die pes dood is se lyke bymekaargemaak het, het gedink hy is dood en hom saam met lyke in ’n massagraf gegooi. Die graf is nie dadelik toegegooi nie, maar net tydelik bedek sodat nog lyke later bygevoeg kon word. Die volgende dag het Augustin tussen die lyke op sy doedelsak gespeel tot hy uit die graf gered is. Daarna het Augustin blykbaar beter verdien. Die legende is dalk deur homself begin. Destydse bronne het al berig oor hoe hy tussen die lyke uitgekom het.

Die volksliedjie “O du lieber Augustin” het omstreeks 1800 in Wene ontstaan. Augustin self word as die skrywer genoem, maar die oorsprong is onseker.

Die bekende liedjie se woorde hieronder. Die liedjie laat my dink aan iemand wat met alles ontevrede is en oor alles kla.

Is jy ook ʼn klakous? Alles is altyd verkeerd en natuurlik is almal behalwe jyself te blameer. As die ander mense dinge net beter wil doen.

Klakouse is nie lekker mense om rondom jou te hê nie. Die lewe is ook net te kort om om te kla. Julle onthou Martha van die Bybel. Sy moet al die werk alleen doen terwyl Maria haar die luukse veroorloof om met Jesus te kuier. Ai, die lewe is swaar en onregverdig.

Is nie! Begin by lof aan die Here en net nou is jy in ʼn ander gemoedstemming.

O, die liewe Martatjie, Martatjie, Martatjie!

O, die kleine vabondjie het my laat staan.

Geld is weg, nooi is weg, als is weg, alles weg!

O, die kleine vabondjie, wat nou gedaan?

O, my liewe Kareltjie, Kareltjie, Kareltjie!

Waarom kleine papbroekie, moet jy so kla?

Net ‘n grap, jy’s te pap, jy’s te sleg, als is reg.

Kom nou, liewe Kareltjie, vra Pa en Ma.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Ek dink wanneer ‘n mens oor die regte dinge kla, kan jy nie noodwendig ‘n klakous genoem word nie…

Mark ·

Ek kla by God selfs soos vir Martha het Hy altyd vir my ‘n antwoord. Selfs ior die regte dinge kla ek by Hom so mense kan my nie ‘n kla kous noem nie, Hg het jammers aanbeveel dat Ek al My koomer en smart na Jesus mort bring…lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.