ToekomsVenster: Ja, maar …

Foto: Pixabay

“Soos ʼn vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” – Psalms 103:13 (AFR53)

Ons het betrokke geraak by drie manne wat die sypaadjies in ons omgewing begin skoonmaak het.

Ek het hulle ongeveer vyf weke gelede die eerste keer opgemerk, by hulle gestop en gevra wie hulle betaal. Tot my stomme verbasing vertel hulle toe dat niemand hulle betaal nie. Hulle het net besluit om iets met hul lewens te doen en dit is die wyse waarop hulle begin.

Motoriste stop spontaan om ʼn koeldrank, iets te ete en selfs ʼn geldjie uit te deel. Mense betuig hul waardering vir die inisiatief en komplimenteer die manne dat hulle volhard.

Dit is vyf weke verder en ek sien hulle bykans daagliks waar hul met graaf en besem en ʼn paar ander instrumente wat ons gemeente gegee het, die omgewing leefbaar maak.

Ons is geneig om baie gou te besluit dat mense te sleg is om te rehabiliteer.

Hoe dikwels het ek nie al gehoor dat mense sê: “As hulle sigarette kan bekostig, kry hulle nie swaar genoeg nie”.

Ek hoor van ʼn afhanklike wat saam met haar rystoelgebonde man vir jare langs die pad gesit het (nou oorlede) dat die tannie per geleentheid druiwe in Woolworths gaan koop het.

Die opmerking, “ek kan nie eers druiwe by Woolworths bekostig nie, hulle het duidelik nie nood nie”, is verwytend rondgeslinger.

Sjoe, ek wonder of ons nie verkeerd oordeel nie.

So ongesond as wat sigarette ook al is, is dit dalk die enigste ding wat verligting, kalmte, selfs sin en betekenis bring.

So duur as wat druiwe by die uitsoekwinkel ook al mag wees, miskien het die tannie vir haarself gesê: “Vandag bederf ek die oom (haar man) met ʼn bietjie druiwe”.

Die woorde “ja maar” kry ons telkens in die moeilikheid.

Met “ja maar” plaas ons etikette om mense se nekke, verdoem hulle verder en spreek oordele oor hulle uit.

Feit van die saak is, al wat ek sien is die sigbare nood.

Van die onsigbare verwerping, armoede, worsteling om te oorleef weet ek niks.

Het die mense ooit ʼn kans gehad, gesien in die lig daarvan dat die eerste paar jaar die belangrikste deel van ʼn mens se ontwikkeling is?

Die drie manne, twee broers en een vriend, vertel dat mense by hulle stop en dwelms aanbied.

Mense in motors en bakkies, mense wat geen erg aan die rehabilitasie van hierdie stukkende mense het nie.

Met die straatgeld versorg die twee broers hul moeder, betaal vir hulle pa in ʼn skuiling, en help met die ander broer se drie kinders.

Miskien moet ons weer dink oor ons “ja maar”!

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.