ToekomsVenster: Jy is Jesus se vriend

(Foto: Dim Hou/Unsplash)

“Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ʼn ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” – Johannes 15:15 (AFR83)

Jesus is nie sommer enige ou nie, om dit sommer in gewone Afrikaans te stel. Hy is die Seun van die lewende God, in alle opsigte aanbiddenswaardig, verhewe, en dink maar aan die talle ander eienskappe wat jy nog sou wou byvoeg?

Al die mooi woorde van die wêreld, al die komplimente en vermeldings, kan nie reg laat geskied aan wie HY is nie.

As God, is Hy boonop soewerein. Dit beteken doodgewoon dat God Drie-enig, Jesus in die besonder, niemand enigiets skuld nie, allermins die mens. Hy het ons ook nie nodig nie. Dit klink blatant en selfs hard op die oor maar dit is waar, en tog nooi Hy ons uit om met Hom in ʼn vriendskapsverhouding te tree.

Trouens hy vra nie eers nie, Hy komplimenteer ons met hierdie merkwaardige toesegging.

Julle is my vriende. Jesus is ʼn vriend wat in alle opsigte betroubaar is.

Die interessante en opmerklike is dat ons almal graag vriende wil wees met “vername” mense. Die gedagte dat hulle ons as gewone mense sal vra om hulle vriende te wees, klink vergesog. Dit is tog eerder ons wat toenadering sal soek en sal vra of daardie persoon sal oorweeg om ons in sy of haar vriendekring in te sluit.

Soos dit is, kan dit gebeur dat ons toenadering met ʼn afjak begroet word. Vername mense soek immers verbintenisse wat op hulle vlak is. Hulle maak nie vriende met gewone mense nie.

Hier is dit heel anders.

Dit is inderdaad die meerdere wat die “mindere” in sy kring insluit.

Ons is nie meer ondergeskiktes nie, en dit wat ons inderwaarheid is en waarmee ons vrede het. Nou egter word ons vriende genoem.

As Jesus bereid was om ons in sy vriendekring in te sluit, moet ons dalk nie so kieskeurig wees oor wie ons kies om ons vriende te wees nie.

Dink ʼn bietjie daaroor!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.