ToekomsVenster: Kennis en vertroue

dink-denke-denker-man-sit-rots

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash)

“Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord.” – Psalms 119:81 (NLV)

Ons leef in ʼn interessante tyd waarin diversiteit van denke en oortuigings aan die orde van die dag is.

Elkeen het ʼn opinie en ek het die grootste respek daarvoor. Die Here het ons nie gekloon nie maar uniek, individueel en uitsonderlik gemaak. Dit is iets wat respek verdien en wat nie afgemaak moet word as kortsigtigheid, selfsug of enigiets anders nie.

In so ʼn wêreld is daar egter sekere sake wat onverhandelbaar is en ook daaroor moet elke mens self besluit.

Kennis van buite is nog nie oortuigings van die hart nie. Die sentimeters tussen ʼn mens se kop, denke en rasionaliteit moet oorbrug word met ʼn besluit om te vertrou, selfs te vertrou wat jy nie verstaan nie.

Die God van die Bybel kan nie met verstand verklaar, gedissekteer en verduidelik word nie. Hy is groter en meer as enigiets waarmee ons ooit gekonfronteer is.

Dink maar net aan God se alomteenwoordigheid. Hy is in sy volle heerlikheid hier by my en daar by jou. Dink aan sy alwetendheid. Daar is niks, maar niks, wat God nie weet nie. Dink aan sy almag. Daar is absoluut niks wat Hy nie kan doen nie, juis daarom is Hy God en ons mense; die produk van sy handewerk.

Gelowiges moet besluit wat onverhandelbaar is in terme van hul geloofservaring en getuienis. Die Apostoliese geloofsbelydenis, wat veral op Sondae en by spesiale geleenthede bely word, is ʼn merkwaardige opsomming van die kernwaarhede van die Skrif. Vader, Seun, Heilige Gees, skepping, versoening, wederkoms, dis alles daar.

Selfs in die Apostoliese geloofsbelydenis is daar fokus. Daar is ruimte om die wyse waarop die wederkoms gaan plaasvind verskillend te interpreteer. Wanneer dit egter by God drie-enig, die maagdelike geboorte, Jesus se wonderwerke, sy Persoon-self – God en die Goddelikheid van die Heilige Gees kom, het ons min beweegruimte om anders te dink of te bely.

Dalk moet ons weer nadink oor wat vir ons onverhandelbaar is, waarom ons die standpunt huldig en wat ons bereid is om daarvoor te verduur.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.