ToekomsVenster: Kom Jesus dan terug op 27 Maart 2027?

(Foto: Edurne Chopeitia/Unsplash)

“Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.” − Matteus 24:30 (AFR83)

Ek bedien by ʼn gemeente in Randfontein en geniet dit altyd daar. Ek geniet die bediening. Ek is tuis op die preekstoel, dit is my gawe, en ek is diep dankbaar maar baie bewus van die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan.

Na die diens neem die mense vriendelik afskeid en sê hier en daar iets moois. Dit word hoog op prys gestel.

In die diens het Covid-19 ter sprake gekom. Iemand ontmoet my buite die gebou en vra of ek weet waarvoor Covid-19 staan. Ek stel min belang, maar waardeer die interaksie. Ek dink ons is verby die pandemie, emosioneel, intellektueel, in alle opsigte. Ons het genoeg gehad van Covid-19.

Dan vervolg hy: “Lees Openbaring 9. Dis alles daar. Lees dit nege keer. Blaai ook deur Daniël. Die datum is daar. Skryf dit op. Wees gereed. Jesus kom weer. 27 Maart (kon ook Julie gewees het) 2027”.

Die entoesiastiese Bybelstudent twyfel geensins nie. Hy druk ʼn papiertjie in my hand en vra dat ek dit ernstig sal lees. “Dit is alles daar. Jy kan my skakel, dan gesels ons verder daaroor.”

“Nee”, sê ek vriendelik. “Ek wil nie daaroor gesels nie”.

Daar is belangriker dinge waarmee ek besig moet wees as met spekulasie van wanneer Jesus kom.

Meer as twee miljoen mense gaan slaap honger saans. Meer as 60% van ons jongmense het nie werk nie. Dienslewering is aan flarde. Nog meer ontstellend. Suid-Afrika se morele basis is besig om te disintegreer. My kinders en kleinkinders se toekoms is op die spel. Wat hou my volwasse kinders nog hier?

Dit is belangrike vrae waarmee hulle worstel.

Jesus kom weer, dis ʼn feit. Wanneer weet niemand nie, ook nie my slim Bybelstudente nie. Net die Vader weet, sê die Bybel. Intussen disintegreer die wêreld rondom ons. Dis die goed wat ons aandag, entoesiasme, energie, fokus en investering verdien.

Na alles, Jesus het ons geleer: “Laat U koninkryk op aarde kom soos in die hemel”.

Het jy dan nog nie gehoor nie, die hemel is hier, Jesus kom hiernatoe.

Hier word alles vernuwe, ons is reeds daarmee besig.

Mag Hy ons besig vind as Hy terugkom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kat ·

Amen. Mense moet ophou om voorspellings te maak wanneer Jesus terugkom en weer hul Bybel met erens begin lees, gelei deur God; om in geloof te groei.

melaney ·

Jesus kan enige oomblik (dag of nag) kom. Dit hang net af van die toestand van ons hart. As ek bv hom nou soek, praat ek met hom, en hy sal binne my kom bly. Verewig. Kom wat wil. As ek hom nie in my hart het nie, is my toekoms daarmee heen, of dit nou 27 Maart 2023 is of wanneer ook al. Praat met hom. Hy luister graag.

MakersMark ·

Elke tweede een wat homself as ‘n siener, wiskundige of profeet sien het ‘n “geheime insig” of godgegewe geheime kennis van die herkoms. My uitgangspunt is dis arrogansie om te dink ‘n mens kan “voorspel” wanneer die wederkoms sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.