ToekomsVenster: Kom ons gaan maak ’n verskil

Vertroue

(Foto: Reint Dykema)

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. – Psalms 37:3 (AFR83)

Suid-Afrika, dit is ons trotse gemeenskaplike bestemming. Ek gebruik nie die woord besitting nie omdat alles aan God behoort. Suid-Afrika is ons konteks, agtergrond en bestemming. Altyd weer en weer op pad daarheen, besig om die koninkryk van God op eie bodem ʼn groter werklikheid te maak.

Prof. Fika Janse van Rensburg, emeritus professor aan die Noordwes-Universiteit, skryf onlangs op Netwerk 24 oor die wyse waarop ons oor Suid-Afrika praat.

Daar is soveel in Suid-Afrika is wat ʼn mens ontstel. Nuus lees, aanlyn of harde kopie, is dikwels ʼn uiters ontstellende ervaring. Die vlakke van misdaad, korrupsie, gebrek aan politieke wil, dissipline en integriteit wil ʼn mens in ʼn toestand van troostelose hulpeloosheid op die grond laat neerval.

Miskien moet dit ons op ons knieë laat sak. Die Here bemoedig ʼn mens altyd weer.

Die Psalmdigter sê dat God sommige van die volkere se opstand, rebellie en arrogansie lagwekkend vind. Hy spot met hulle. Hy spreek altyd die laaste woord, net soos Hy aan die begin gesê het, laat daar lig wees. Die lig van God se teenwoordigheid, Woord en beloftes kan nie uitgedoof word nie.

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. Hy spreek hulle aan in sy toorn. – Psalms 2:4-5

Janse van Rensburg verwys na die asemrowende geskenke, moontlikhede en beloftes wat steeds deel van ons land is. Daar is inderdaad ʼn groot aantal fenomenale moontlikhede in hierdie land.

Volgende jaar is algemene nasionale verkiesing. Ons het ʼn geleentheid om die bordjies te verhang. ʼn Onlangse stuk navorsing dui daarop dat alternatiewe wat tans op die tafel is – soos die veelparty-pakt – beduidende moontlikhede inhou.

As hierdie land gaan verander, sal dit net deur die ernstige nadenke en betrokkenheid van gewone mense soos ek en jy plaasvind. Die Here doen sy deel. Wat van ons? Is jy geregistreer en gaan jy stem?

Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. – Jeremia 29:7 (AFR83)

Die Bybel is van begin tot einde kontekstueel getrou. Wie die septer swaai, vorm die konteks waarbinne gelowiges hul mandaat uitleef. Profete was dapper uitgesproke oor die goed wat verkeerd was in die samelewing. Gelowiges het aktief aan die gemeenskapslewe deelgeneem.

Kom ons maak ook die verskil.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.