ToekomsVenster: Kom uit die spiraal van ondergang

(Foto: Shalom Shore/Pexels)

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” – Mattheus 11:28-30 (AFR53)

Altyd ʼn voorreg om saam met jou na te dink oor lewenswaarhede en die perspektiewe wat die Bybel vir ons gee. As ʼn mens fyn luister is daar soveel evangeliese waarhede raak te hoor in die dinge wat rondom ons gebeur, dat dit inderdaad verrassend is.

Ek is besonder ingestel op frases wat in TV-programme na vore kom. Die konteks is nie noodwendig Christelik nie, maar die toepassing van daardie gedagtes het soveel te doen met ons lewe as gelowiges.

Ek en Suzette hou daarvan om kort reekse op TV te volg. Sommer net so ses of sewe episodes en dan is die saak afgehandel. So volg ons ʼn reeks waarin een van die hoofkarakters ʼn liefdesteleurstelling beleef.

Die nooi op wie hy sy oog het, tree met iemand anders in die huwelik. Die teleurstelling is vir hom net te groot en hy gee homself oor aan losbandigheid. Alle tekens is daar dat die keuse wat hy nou uitoefen in die toekoms in een of ander tragedie gaan uitspeel.

Hy het ʼn vriendin wat op haar eie manier waarhede kwytraak. Sy is nie self die voorbeeld van moraliteit en waardes nie, maar is vir hom ʼn baie goeie vangnet in ʼn tyd waarin hy regtig ondersteuning nodig het.

Op ʼn stadium sê sy vir hom die volgende woorde: “As jy in ʼn spiraal na onder vryval voel dit of jy vlieg, totdat jy die grond tref”.

Dink vir ʼn oomblik daaroor na saam met my.

ʼn Mens vind dit dikwels dat mense wat teleurstelling beleef hulleself oorgee aan losbandigheid en vernaam drankmisbruik. Op dié manier hoop hulle om van hulle probleme te vergeet.

Sou hulle met hierdie onverskillige gedrag voortgaan word dit inderdaad ʼn spiraal na ondergang. Dit mag ʼn tyd lank voel asof jy weer in beheer gekom het van jou lewe en asof die onaangename omstandighede jou nie regtig raak nie. Jy voel vry en besef nie wat besig is om met jou te gebeur nie, totdat jy die grond tref.

Dit gebeur dan ook in die lewe van hierdie hoofkarakter en genadiglik sien hy die lig.

Christene is nie vrygestel van teleurstellings, hartseer en pyn nie.

Die Bybel het ʼn oplossing daarvoor, inderdaad ʼn Goddelike uitnodiging en jy is daarmee bekend: “Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is en ek sal julle rus gee”.

Moenie maak soos die wêreld maak nie. Drankmisbruik, en alles wat daarmee saamgaan, is nie die oplossing nie.

Vertrou God met jou hartseer. Die vrede wat Hy gee is hemels.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Sulke waar woorde……God se vrede is onbegryplik hemels…..dankie Here……Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.