ToekomsVenster: Laat die Gees jou gedrag bepaal

Foto: Juanita Badenhorst.

Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. – Galasiërs 5:25

Hier rondom die draai van die jaar is Suid-Afrikaners geruk deur die sinnelose losbrand op onskuldige mense in Melville Johannesburg, se vroeë oggendure. Een oomblik was almal nog in feestelike luim en die volgende het almal geskarrel in ʼn poging om van die malligheid te ontsnap.

Hendrik Hancke, onder die opskrif “Plas gesteelde bloed mag nie nuwe normaal in Suid-Afrika word nie”, skryf  met verwysing na die voorval en ander hartseer gebeure oor die Suid-Afrika waaraan ons onderwerp word. Hy verwys na die meer as 50 mense wat daagliks onnatuurlik sterf. Suid-Afrika sê hy is ʼn plek van “waansin en weemoed”. Ons is in die moeilikheid en geen buite instansie gaan ons kom red nie.

Ek haal aan: “Ons is op mekaar aangewese, Suid-Afrika. Ons sal self moet sien en kom klaar. Ons sal weer daar vir mekaar moet wees. Mekaar oopoog en met genade benader. Ons moet versag, ons moet aanpas en ons moet weer droom”.

Hierdie woorde raak my diep. Ons het ʼn basis van woede ontwikkel wat met die minste uitdaging tot uitbarsting kom. Ek beleef dit self verlede week toe ek ʼn slaggat in die pad probeer mis ry en die motoris agter by my verbyjaag. Voor ek my kon kry is ek en die man in ʼn woordewisseling betrokke en ek skaam my om dit te erken. Ek moes myself afvra wat hier binne aan die gebeur is. Ek moes my biddend na God wend en vra dat Hy my ʼn sagte mens sal maak.

Net die Here verander harte, myne ook. Christene leef anders en tree anders op. Ons is in beheer van ons emosies en laat ons nie aan ons neuse rondlei nie. Kan ons mekaar leer verdra, liefhê selfs al het die persoon in die motor voor jou erg verbrou?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria M S ·

My dierbare Manlief verwys altyd na die armbandjies wat op n tyd (dalk nog steeds) deur mense gedra word, met die woorde daarop : “wat sou JESUS doen?” n Baie moeilike maatstaf om onsself aan te meet, maar beslis woorde om deurentyd in ons gedagtes te dra en onder sulke omstandighede toe te pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.