ToekomsVenster: Lag meer

(Foto: Kat Smith/Pexels)

Waarlik, sy toorn duur net ‘n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer. – Ps. 30:6

Die nuwe jaar is in volle swang en het sommer hier aan die begin reeds begin met ʼn aantal interessanthede. Ek dink aan die brand by die parlementsgeboue (hoe hartseer), ook die skade by die konstitusionele hof, die Zondo verslag wat stuks- stuks bekend gemaak word om maar ʼn paar sake te noem. Ja, die lewe staan nie stil nie en neem nie ʼn blaaskans net omdat dit “vakansie, feestyd of nuwe jaar” is nie.

Dit is ʼn goeie oefening om ietwat na die dink oor die wyse waarop ons 2022 sou wou deurbring. Ons het nie die vermoë om die gang van sake volledig te bepaal of te bestuur nie, maar ons kan betekenisvolle inhoud en rigting gee aan ons eie ingesteldheid op die lewe.

Derhalwe wil ek hierdie week vyf voorstelle maak vir jou oorweging. Ek is van die oortuiging dat die gedagtes nie alleen in die Bybel begrond is nie maar betekenisvol sal bydrae tot die gehalte van ons lewens.

Ons dink vandag ʼn bietjie na oor meer lag.

Die hartseer en trauma van die afgelope bykans twee jaar, ek verwys uiteraard in die besonder na Covid-19, het baie van ons van ons vermoë om te lag ontneem. Ons dra soos Atlas van ouds die hele wêreld op ons skouers en sukkel om van die swaarmoedigheid ontslae te raak. Omstandighede mag bitter swaar wees maar as ʼn mens die genade vind om die humoristiese en verkwikkende dinge in die lewe raak te sien en laggend te vier, maak dit sake soveel meer hanteer baar.

Die teks help ons om die reëlmaat van die lewe te verstaan en na te streef.

Hartseer, trauma en trane is ten ene male deel van ons bestaan. Dit is Goddank nie alles nie. Na gister se trane is daar die vreugde van vandag.

Lag het verskillende betekenis moontlikhede en uitdrukkings. Daar is lag vir ʼn snaakse grappie of staaltjie. Daar is ʼn lag wat met opregte groet gepaard gaan. Daar is lag omdat jy jou verlustig in ʼn saak soos net ʼn ouma en oupa dit kan doen, uiteraard verwysend na die kleinkinders. Daar is lag wanneer jou kinders die regte keuses maak, wanneer sake uitwerk, wanneer hulp van onverwagse plekke af kom, wanneer God gebede beantwoord. Lag as ʼn lewenshouding, ʼn ritme. Dalk die voorneme om ten minste een keer per dag lekker te lag, al is dit net vir jouself in die spieël. “Dat God hierdie gesig kan liefhê, is genade” sê jy vir jouself en lag te lekker daaroor.

Wil jy nie saam met my die uitdaging om meer te lag aanvaar nie? Begin sommer vandag en maak ʼn merkie agter jou naam as jy daarin geslaag het.

“Verbly julle in die Here, en ek herhaal (sê Paulus), verbly julle in die Here”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Dankie liewe Heer dat ek die vrymoedigheid het om vandag te lag want U is in beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.